NWU-navorsers voer Suid-Afrika se eerste studie oor omgewings- maatskaplike werk uit

Klimaatsverandering, vernietiging van die omgewing en die ineenstorting van biodiversiteit hou ’n ernstige bedreiging vir die planeet en die mens in, en veral vir arm en gemarginaliseerde gemeenskappe.

Die bedreiging kan selfs groter wees vir die burgers van Suid-Afrika, aangesien die Suider-Afrikaanse streek as ’n sensitiewe kerngebied geïdentifiseer is. Suid-Afrika het die afgelope paar jaar beduidende veranderings in weerpatrone ervaar, wat die bekommernisse oor die impak daarvan op kwesbare mense net vererger. Dit het op sy beurt aanleiding gegee tot ’n nuwe tak van maatskaplike werk, bekend as omgewings- maatskaplike werk (OMW).

’n Navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU), Linda Arkert, het die eerste Suid-Afrikaanse studie uitgevoer wat die persepsies ondersoek van dosente in maatskaplike werk ten opsigte van die belangrikheid en tersaaklikheid van ESW in hierdie land.

Die studie is uitgevoer deur die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies van die NWU, wat in Wellington in die Wes-Kaap geleë is.  Dr Issie Jacobs was die studieleier.

Akademici in maatskaplike werk van ses universiteite het aan semigestruktureerde onderhoude deelgeneem en die data is daarna volgens temas ontleed.

Die bevindings

  • Akademici in maatskaplike werk beskou ESW as belangrik, en sommige van hulle is selfs besig om ESW stadigaan by hulle nagraadse leerplanne in te werk. Aangesien maatskaplike werkers in Suid-Afrika egter reeds oorweldig is met uitdagings soos kindermishandeling, huishoudelike geweld en armoede, word ESW nie as ’n prioriteit beskou nie. Dit kan die rede wees vir die beperkte literatuur oor die onderwerp wat vanuit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt beskikbaar is.  
  • Die bevindings het getoon dat indien maatskaplike werk ESW by sy opleiding en praktyk sou insluit, ’n paradigmaskuif gemaak moet word om op dekolonialisering, inheemse kennis en aanpasbaarheid te fokus.  Akademici was egter van mening dat ’n paradigmaskuif bepaalde uitdagings vir maatskaplike werkers se beroep in Suid-Afrika sal meebring.  
  • ’n Interessante aspek wat die bevindings na vore gebring het, is dat maatskaplike werkers reeds sekere vaardighede en kennis besit om ESW te implementeer. As werkers in ’n regtegebaseerde beroep, het maatskaplike werkers ook ervaring in voorspraak en maatskaplikegeregtigheidspraktyke en is dus in die perfekte posisie om omgewingsgeregtigheid te bepleit.

Sleutelaanbevelings

Daar moet ’n groter bewustheid wees van klimaatsverandering en die effek wat dit op gemeenskappe en die omgewing het, asook van ESW en die verantwoordelikheid van maatskaplike werk as ’n regtegebaseerde beroep om die effek van klimaatsverandering aan te pak en te versag.  Indien ESW by die opleiding in maatskaplike werk ingesluit moet word, sal akademici in maatskaplike werk mense van die vakgebied ESW bewus moet maak deur aan werkswinkels, konferensies, colloquiums en ander platforms vir besprekings deel te neem.

As gevolg van hulle beginsels, waardes, rolle en vaardighede is maatskaplike werkers in ’n goeie posisie om hulle deel te doen om die uitwerking van klimaatsverandering, omgewingsdegradasie en die ineenstorting van biodiversiteit te stuit. Maatskaplike werkers moet egter nie dink dat slegs mense belangrik is nie en bewus raak daarvan dat die planeet en alle lewe daarop baie nou verweef is.

Klankgreep: Die NWU-navorser Linda Arkert, wat hierdie baanbrekerstudie uitgevoer het, verduidelik die beduidendheid daarvan.

Linda Arkett

Linda Arkert.

Submitted on Wed, 05/18/2022 - 10:45