Die Aarde is in die moeilikheid. Ons is besig om onder wolke van koolstofdioksiedvrystellings te verstik as gevolg van die gebruik van steenkool en ander hulpbronne om energie op te wek, en dit doen die omgewing skade aan. Hierdie vrystellings is die primêre oorsaak van aardverwarming, en as die mens die ergste gevolge van aardverwarming* wil vermy, moet ons alternatiewe vir ons energiebehoeftes vind.
Navorsers by die Noordwes-Universiteit (NWU) ondersoek deurlopend nuwe omgewingsvriendelike energietegnologieë. Waterstof is ’n haalbare alternatief vir fossielbrandstof, en met ’n nulkoolstofvrystelling is dit uitstekend vir die opwekking van veiliger en groener energie. Dit word erken in die onlangs vrygestelde Waterstofvereniging se Padkaart vir Suid-Afrika, waartoe NWU-navorsers beduidende bydraes gelewer het.
Dr Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, het op 17 Februarie hierdie jaar die Waterstofvereniging se Padkaart vir Suid-Afrika amptelik bekendgestel. Hierdie noodsaaklike nasionale dokument is ontwikkel as ’n vennootskap wat Waterstof Suid-Afrika se Infrastruktuursentrum van Bevoegdheid by die NWU, die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI), KPMG en ander belanghebbers insluit.
Die Waterstofvereniging se Padkaart wys die weg aan na ’n groener en omgewingsveiliger Suid-Afrika. Dit fokus op potensiële bedryfsgroeigebiede wat by die produksie, stoor en verspreiding van waterstof en verwante navorsingsontwikkeling en innovasie sal baat, asook by die bevordering van gendergelykheid en maatskaplike insluiting as belangrike voordele van die waterstofekonomie.
Prof Dmitri Bessarabov, direkteur van die DWI se HySA-bevoegdheidsentrum op die Potchefstroomkampus van die NWU, sê die nasionale vlagskipprogram HySA het oor die afgelope 11 jaar befondsing van ongeveer R421 miljoen vir die NWU ingebring. As deel van die projek is 212 ten volle beoordeelde publikasies saam met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad geproduseer.
Op pad na ’n laekoolstofekonomie
“Hierdie projek is wonderlik vir die akademiese en openbare bewustheid van ons prestasies. Dit beklemtoon ook ons beduidende teenwoordigheid in Afrika as sleutelspeler in die waterstofomgewing,” sê prof Bessarabov. “Dit bevorder voorts ons reputasie vir potensiële medewerkers van oorsee.”
Hy sê die befondsing is die bewys van die verbintenis van die Suid-Afrikaanse regering om nuwe tegnologie te genereer en om plaaslike kundiges en studente op te lei om die CO2-regulasies van die Paryse Ooreenkoms ten opsigte van die klimaat na te kom.
“Om ’n laekoolstofekonomie of ’n koolstofvrye ekonomie te implementeer, moet waterstof van hernubare energiebronne soos sonkrag, wind en water geproduseer word. Aangesien dit nuwe tegnologie is, verskaf die Padkaart riglyne van die regering en dui die prioritisering aan van hoe hierdie waterstofkodes en -standaarde geïmplementeer sal word en in watter sektore van die ekonomie dit (waterstof) eerste gebruik gaan word. Daar moet veiligheidstandaarde, regulasies en riglyne vir belanghebbers en die bedryf wees,” sê prof Bessarabov.
Volgens hom het meer as 40 lande alreeds waterstofpadkaarte gepubliseer wat meestal spesifiek vir hulle land is.
“Ons is baie geëerd en trots daarop dat die HySA-bevoegdheidsentrum by die NWU gekies is as koördineerder vir die aanvanklike stadium van die ontwikkeling van die Padkaart, wat deur ’n lang, inklusiewe proses gevolg is totdat die finale dokument gebore is.”
Klik hier om prof Bessarabov se praatjie oor die NWU se betrokkenheid by die proses vir die Waterstofvereniging se Padkaart vir Suid-Afrika en van die ander projekte waarby die HySA-bevoegdheidsentrum betrokke is, te sien.
*Gevolge van aardverwarming en klimaatsverandering sluit vloede, droogtes, stygende seevlakke, die uitwissing van dierespesies en plantegroei, en hoë temperature in.
Prof Dmitri Bessarabov sê die betrokkenheid van die NWU se HySA-bevoegdheidsentrum by die Waterstofvereniging se Padkaart is ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling van waterstoftegnologie by die universiteit.