Talle mense maak op tradisionele plantgeneesmiddels staat om velsiektes te behandel. Nou het ’n navorser van die Noordwes-Universiteit (NWU) ondersoek waarom hierdie plante doeltreffend is, en baan hy die weg vir verdere navorsing deur die farmaseutiese bedryf.
“Die gebruik van inheemse kennis in die verskaffing van primêre gesondheidsorg, veral in die meeste inheemse Afrika-gemeenskappe, is so oud soos die mens self,” sê dr John Awungnjia Asong, navorser en onlangse PhD-gegradueerde.
Hy het vir sy PhD-studie die rol van tradisionele medisyne en inheemse kennis in primêre gesondheidsorg ondersoek. Die doel van die studie is om inheemse kennis en medisinale plante wat vir velverwante siektes gebruik word, te ondersoek en te dokumenteer. Dit het ingesluit dat die farmakologiese eienskappe, fitochemie en mikromorfologiese eienskappe van die geselekteerde medisinale plante wat deur die Batswana se tradisionele gesondheidspraktisyns in die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit in Noordwes gebruik word, geëvalueer is.
“Die gebruik van medisinale plante en kruieprodukte is baie algemeen in die meeste inheemse gemeenskappe. Onder die talle siektes wat met behulp hiervan behandel word, is velsiektes,” sê dr Asong.
“Velsiektes is die eerste simptome wat met talle siektes verband hou, insluitende vigs. Hoewel Westerse medikasie vir die behandeling van velsiektes beskikbaar is, raadpleeg talle etniese groepe in Suid-Afrika steeds tradisionele gesondheidspraktisyns oor hierdie siektes.”
Dr Asong sê dat die Batswana se aptekersboek van tradisionele medisyne ’n ryke plantverskeidenheid en ’n kennis vir die behandeling van velsiektes het. “Dit kan egter bedreig word, aangesien die jong mense nie in inheemse kennis belang stel nie.”
Nuwe plante gedokumenteer om velsiektes te behandel
Hy het deur middel van hierdie studie daarin geslaag om medisinale plante wat vir velsiektes gebruik word en die seleksie en voorbereiding van ekstrakte van die mees benutte en kultureel-belangrike plante te identifiseer en te dokumenteer, ’n antimikrobiese evaluering van die geselekteerde plantekstrakte uit te voer, en ’n fitochemiese en anti-oksidant-evaluering van die plantekstrakte en hulle mikromorfologiese eienskappe te doen.
Dr Asong het in ’n vroeëre onderhoud gesê dat van die 80 plante wat geïdentifiseer is, 38 nog nooit tevore gedokumenteer is om velsiektes in Suid-Afrika te behandel nie.
“Hierdie plante het goeie antimikrobiese agense en bevat hoë vlakke antioksidante en fitochemiese verbindings, waarvan party tans in die farmaseutiese bedryf gebruik word.
“Die meeste van die plante het die potensiaal om in die farmaseutiese bedryf gebruik te word. Die studie het ook ’n platform geskep vir grondige wetenskaplike ontleding om die farmakologiese doeltreffendheid en veiligheid van die geïdentifiseerde medisinale plante te evalueer.”
Gedeeltes van sy werk is in betroubare vaktydskrifte soos die South African Journal of Botany, die Journal of Ethnopharmacology en Plants gepubliseer.
Dr Asong se navorsing is net nog ’n verdere bewys van die geweldige waarde van inheemse kennisstelsels en die behoefte dat hierdie kennis vir ons almal se welstand bewaar moet word.
Dr John Awungnjia Asong, ’n NWU-navorser en onlangse PhD-gegradueerde.