NWU-navorser onderrig beroepshigiëne in Zambië

Zambië se ekonomie is op mynbou gebou, veral op koper. Soos alle mynaktiwiteite, is daar gesondheidsrisiko’s by kopermynbou betrokke. ’n Tekort aan formele kundigheid en kapasiteit in beroepshigiëne kan veroorsaak dat mynwerkers nie voldoende teen beroepsiektes soos silikose beskerm word nie. ’n Navorser by die Noordwes-Universiteit (NWU) se doel is om ’n verskil te maak deur die kapasiteit vir beroepshigiëne vir Zambiese myne te ontwikkel.

Dr Stefan Linde van Beroepshigiëne in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe het in Oktober vanaf Zambië teruggekeer nadat hy ’n week lange werkswinkel oor die basiese beginsels van beroepshigiëne by die Copperbelt Universiteit (CBU) in Kitwe, Zambië aangebied het. Hy het die W201-opleidingsmodule van die opleidingsvereniging vir beroepshigiëne (Occupational Hygiene Training Association), Basiese Beginsels in Beroepshigiëne, vir 13 deelnemers van die CBU en Mopani Mines aangebied.

“Ek glo dat die NWU ’n belangrike rol het om te speel in die ontwikkeling van die kapasiteit in beroepshigiëne in Suider-Afrikaanse lande,” sê dr Linde. “Dit is nie net baie nodig nie, maar noodsaaklik om te help om die werksomstandighede van mynwerkers en werkers in ander beroepe te help verbeter.”

Hy sê daar is ’n gebrek aan regsvereistes in Zambië wat byvoorbeeld fokus op die meting en verslagdoening oor blootstelling aan inasembare kristallyne silikastof (RCS) wat silikose kan veroorsaak. Silikose is ’n langtermyn-longsiekte wat deur die inaseming van groot hoeveelhede RCS-stof oor ’n lang tydperk veroorsaak word.

Talle inisiatiewe is tans aan die gang om die tekorte in kapasiteit te hanteer. Die CBU is besig om ’n beroepshigiëne-laboratorium te vestig om hulle bedryf te bedien, wat beteken dat hulle nie meer alle blootstellingsmonsters vir ontleding na Suid-Afrikaanse laboratoriums hoef te stuur nie, wat tydrowend en duur is.

Nouer bande met Zambiese myne

Dr Linde is genader om aan die beroepshigiëne-aktiwiteite van die CBU deel te neem nadat sy navorsers die internasionale vereniging vir beroepshigiëne (International Occupational Hygiene Association, IOHA) en Sedulitas, ’n konsultasie- en opleidingsmaatskappy vir beroepshigiëne, gekontak het.

Dit het daartoe gelei dat twee PhD-studente van die CBU, Mwaba Sifanu en Lubinda Nabiwa, verlede jaar in November ’n week by die NWU deurgebring het om hulle kennis van beroepshigiënepraktyk en -metodes te verbeter. Hulle is studente in onderskeidelik chemie en fisika wie se navorsingstoepassings op beroepshigiëne fokus, veral op die meting van RCS-blootstelling in die kopermyne van Zambië.

Dr Linde en ’n kollega van die Universiteit van die Witwatersrand, dr Daniel Masekameni, het die taak gehad om hulle eksterne medepromotors te wees. Hierdie navorsingsamewerking het uiteindelik daartoe gelei dat dr Linde met Sedulitas saamgewerk het om die W201-kursus vir die CBU-deelnemers aan te bied.

“Dit is waar ons begin het om met Zambië saam te werk en ek glo dit is maar net die begin van nog projekte, werkswinkels en gesamentlike ontwikkeling.”

Hy hoop dat dit spesifiek tot verdere samewerking tussen beroepshigiënestudente van Zambië en die NWU sal lei.

“Die NWU kan in hierdie opsig internasionaal ’n verskil maak. Dit is waarom ons beoog om in die toekoms meer kapasiteitsbou- en ontwikkelingswerkswinkels in Zambië aan te bied,” sluit hy af.

.....

Dertien afgevaardigdes het aan dr Stefan Linde se werkswinkel in Zambië deelgeneem. In die voorste ry is Florence O’Kane, Lubinda Nabiwa, Kamanda Kamanda en Rabbison Banda, almal van die CBU. In die tweede ry is die CBU se Mwaba Sifanu, Aston Nanja, Womba Kaumba, Salome Mulikita en Patrick Hayumbu (kursusorganiseerder). Agter is dr Stefan Linde (NWU), Matan Munyenyembe (Mopani Mines) en Elvis Sikapizye, Everisto Mulenga en Lameck Banda van die CBU.

Submitted on Thu, 11/10/2022 - 10:12