NWU lewer PhD-graduandi van regoor Afrika

Nelson Mandela het eenmaal gesê hy droom van ‘n verenigde Afrika, waar leiers kragte saamsnoer  om die kontinent se probleme op te los.

Tydens die Noordwes-Universiteit (NWU) se onlangse PhD-gradeplegtigheid op die kampus in Vanderbijlpark was dit duidelik dat sy droom waar kan word. Sewe graduandi van ander lande op die kontinent het tydens hierdie geleentheid hul PhD grade ontvang.

Eleanor Chipeta het haar loopbaan oorspronklik in die banksektor in Malawi begin. Sy het haar PhD in entrepreneurskap verwerf en is tans besig met postdoktorale navorsing by Wits Universiteit. Haar studie is getiteld “Antecedents of social entrepreneurial intentions among Generation Y university students in South Africa”.

Thomas Habanabakise is in Rwanda gebore, en het sy BSc in filosofie) aan die Philosophat Isidore Bakanja in die Demokratiese Republiek van die Kongo in 1999 voltooi. Hy het sy PhD in ekonomiese en bestuurswetenskappe verwerf met sy tesis getiteld “Time-series analysis of the interactions between productivity, real wage, investment spending and sectoral employment in South Africa”. Gedurende sy nagraadse studies tussen 2015 en 2018 het hy saam met sy promotors agt navorsingsartikels in internasionaal erkende joernale gepubliseer.

Michael Pasara het ook sy PhD in ekonomiese en bestuurswetenskappe verwerfmet ekonomie as die fokus. Sy studie getiteld “The welfare effects of economic integration in the Tripartite Free Trade Area”, het ondersoek ingestel om te bepaal of ekonomiese integrasie tot voordeel van Afrikane is of nie. Michael is oorspronklik van die klein dorpie Buhera in Zimbabwe. Hy is die stigter van Conquerors International, ʼn bediening met die visie om Afrikane op spirituele en intellektuele vlak te bemagtig. Hy is ook die outeur van twee boeke oor self-bemagtiging.

Kazeem Abimbola Sanusi is in 1983 in Oyo in Nigerië gebore. Hy is ʼn gevestigde navorser in monitêre en fiskale beleid, en het al talle artikels gepubliseer en referate in plaaslike en internasionale joernale gelewer. Sy tesis getiteld “An economic analysis of fiscal policy and monetary policy interdependence: comparative study between Nigeria and South Africa” het vir hom ʼn PhD in ekonomiese en bestuurswetenskappe met ʼn fokus op ekonomie besorg.

Michael Galukande is van Uganda waar hy vir die laaste vyf jaar as ʼn konsultant in openbare beleid en bestuur by die Uganda Management Institute in Kampala werk. Sy tesis, “Evaluation of participatory governance for enhancing quality of local governments: A case of six selected governments in Central Uganda”, het vir hom ʼn PhD in openbare administrasie en bestuur in die sak gebring.

Hilda Jaka is in Kwekwe, Zimbabwe gebore en het in die Chivi-distrik grootgeword. Sy was vir vier jaar ʼn hoërskoolonderwyser en het vir vyf jaar as junior dosent by die Zimbabwe Open University klasgegee. Sy het ʼn PhD in ontwikkeling en bestuur verwerf met haar studie getiteld “An exploration of WEF-Nexus coping strategies of rural women in Masvingo Province, Zimbabwe and Limpopo Province, South Africa”. Sy het twee referate in erkende joernale met ʼn fokus op landelike ontwikkeling gepubliseer.

Innocent Nuwagaba het sy PhD in openbare administrasie en bestuur verwerf met ʼn studie getiteld, “An assessment of public private partnerships in the road sector: A case of Uganda National Roads Authority”. Hy werk tans by die Uganda Management Insititute as konsultant in projekbestuur, aankopebestuur en monitering en evaluasie.

Die NWU is trots op hierdie sewe nuwe alumni wat met harde werk en toewyding die NWU se droom verwesenlik: om ʼn internasionale universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir betrokke wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ʼn sorgsaamheidsetiek.

Submitted on Mon, 05/20/2019 - 08:29