NWU kyk verby beurtkrag na volhoubare groener energie-oplossings

Terwyl die huidige uitdagings aangepak word wat deur beurtkrag veroorsaak word, kyk die Noordwes-Universiteit (NWU) ook na langtermyn- volhoubare en groener oplossings vir die opwekking van hernubare energie. Dit sal nie net energiesekerheid verseker nie, maar ook die universiteit se verbintenis tot billike energie-oordrag onderstreep.

Die NWU sukkel reeds om die dienstebegroting te laat klop met die bykomende verkryging van diesel vir die noodkragopwekkers. “Dit is waarom ons deurlopend na maniere soek om ons verbruik en koste te verminder,” sê Hendrik Esterhuizen, direkteur van Ingenieursvoldoening by die NWU se Fasiliteite-departement.

Volgens Hendrik het die NWU al deurlopend talle energiebesparende inisiatiewe aangewend soos die installering van LED-ligte in sy geboue en gesofistikeerde Schneider Electric Power Monitoring Expert-sagtewarestelsels om doeltreffende energiebestuur te verseker. Ander maatreëls sluit nuwe elektriese en waternetwerke in om munisipale aansluitings te verminder, asook verskeie meters vir onderskeidelik elektrisiteit, water en kontroleerders.

Daar word ook verwag dat skoon drinkwater die volgende groot uitdaging gaan wees en dat dit teen 2030 baie skaars gaan word. Die NWU kyk reeds na maatreëls in dié verband.

Mag die son oor die NWU skyn

Sonenergie is een van die groener energie-oplossings wat die NWU meen koste sal bespaar en die uiters negatiewe impak van beurtkrag drasties sal verminder.

Die NWU se jongste projek is die vyffase-installasie van fotovoltaïese elektriese opwekkingsgeriewe vir sonkrag (PV-aanlegte) op al drie sy kampusse. Dit behels die installasie van sonkragstelsels by al drie hoofbiblioteke. Daar is twee ander fases van gedesentraliseerde sonkragaanlegte met die volgende kapasiteite:

Mahikengkampus: 1 000 kWp

Potchefstroomkampus: 2 000 kWp

Vanderbijlparkkampus: 385 kWp

Projekbestuurder Willem Erasmus sê elkeen van hierdie installasies sal as individuele projekte voltooi word. Twee van die fases sal op die Potchefstroomkampus plaasvind en een spesifiek by die Fanie du Toit Sportterrein (K-blok-area). Die ander twee fases sal by die Mahikengkampus en die Vanderbijlparkkampus wees. Hierdie sonkragstelsels sal in bedryf wees terwyl die kampusse normale krag gebruik en wanneer die noodopwekkers gebruik word, wat ’n dubbele voordeel in energievermindering sal verskaf.

“Ons is baie opgewonde oor hierdie installasies en ons doelwit is om teen Maart 2024 al die fases in hulle konstruksiestadium te hê.” Hy sê die amptelike begindatum vir die installasies is 15 Januarie en die verwagting is dat al die fases teen April 2024 voltooi sal wees.

“Die belangrikheid van hierdie projek is dat ons nie net daarna kyk om die deurlopende en onmiddellike uitdagings ten opsigte van energievoorsiening wat deur beurtkrag veroorsaak word die hoof te bied nie. Nog belangriker, ons wil ook aandag gee aan die kwessie van omgewingsvolhoubaarheid – veral die verkleining van die NWU se koolstofvoetspoor,” sê Ntokozo Kunene, hoofdirekteur van Fasiliteite.

Gedragsverandering noodsaaklik om energie-uitdagings die hoof te bied

Selfs met al die energiedoeltreffendheidsprojekte het elke personeellid, student en belanghebber op die ou end steeds ’n beduidende rol om te speel indien die universiteit sy energiedoelwitte wil bereik.

Dit gaan alles oor gedrag wat energiedoeltreffendheid verseker. “Ons doelwit is om teen 2024 ’n 10%-gedragsvermindering ten opsigte van energieverbruik te bereik,” sê Hendrik, en beklemtoon dat dit ’n geweldige impak sal hê as almal die verantwoordelikheid vir hulle eie koolstofvoetspoor sal neem.

Die hoof en visekanselier, prof Bismark Tyobeka, beaam Hendrik se sentiment. “Ons leef in ’n era waar ons maklik die treë wat ons elke dag gee, kan tel. Hopelik sal elke persoon eendag ook die uitwerking kan meet wat hulle met betrekking tot koolstofvrystellings het. Elkeen van ons behoort op so ’n wyse op te tree dat ons nie net energie bespaar nie, maar dit ook doeltreffend gebruik.”

Die NWU se ander doelwitte sluit in dat ’n minimum van 30% van energie teen 2025 van hernubare bronne moet kom en dat daar teen 2030 2 000 metingspunte sal wees. Munisipale verbindings moet ook teen 2028 vanaf 300 tot 50 verminder word. Die voorkomende instandhoudingsplanne moet voorts verbeter word om onklaarrakings te verminder.

.....

Ntokozo Kunene, hoofdirekteur van Fasiliteite, Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, Toni de Canha van Adenco Construction (Edms.) Bpk., Abdullah Jeevah van ADQ Engineering, en Hendrik Esterhuizen, direkteur van Ingenieursvoldoening.

Submitted on Mon, 11/27/2023 - 15:11