NWU-kundiges deel hulle reis met borskanker

Dit is die diagnose wat die meeste mense vrees: kanker. Twee professore van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat albei op verskillende maniere deur hierdie lewensbedreigende siekte geraak is, sê die emosionele tol wat dit eis, kan net so rampspoedig wees as die fisieke skade wat dit aanrig. Hulle gee kundige raad oor hoe om dit te hanteer wanneer kanker ’n persoonlike werklikheid word.

Prof Welma Lubbe, direkteur van die navorsingsfokusarea Kwaliteit in Verpleging en Verloskunde (NuMIQ) in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, sê haar reis met kanker het amper sewe jaar gelede begin toe sy ’n knoppie in haar bors ontdek het.

Toetse het bevestig dat sy fase 2- hormoonafhanklike kanker het. Wat gevolg het, was ’n uitmergelende emosionele wipwaentjierit.

“Ek het aanvanklik totale ontkenning ervaar, gevolg deur ’n gevoelloosheid en trane. Dit het vier dae geduur voordat die eerste deel van die resultate bevestig het dat dit inderdaad kanker is en nog vier dae voordat verdere toetse vasgestel het watter soort kanker dit is en hoe dit behandel behoort te word.”

Die gewag vir die uitslae het haar in emosionele angs en onsekerheid gedompel. “Angs neem ’n mens na die donkerste plekke waar jy probeer antwoorde vind op vrae soos ‘gaan ek dit oorleef?’ en ‘gaan my man dit regkry om my klein kinders groot te maak as ek sou sterf?’.”

Prof Lubbe het sedertdien kanker twee keer getroef, maar hoe het sy daardie donker dae hanteer?

Bepaal wat belangrik is

“Ek het so normaal as moontlik probeer leef. My daaglikse verantwoordelikhede het nie verdwyn toe ek die kankerdiagnose ontvang het nie. Dit was hierdie besef wat my aangespoor het om te begin kyk wat belangrik is en wat nie.”

Prof Lubbe se ondersteuningstelsel – haar familie en haar naby vriende – het haar gered. Hulle het haar emosioneel, fisies en finansieel ondersteun.

“Ek het op ’n klein groepie staatgemaak om my buffer te wees en inligting oor my behandeling en welstand te deel met almal wat wou weet. Dit het daardie uitputtende verantwoordelikheid van my skouers afgehaal.”

Haar man het die administratiewe eise makliker gemaak. Hy was haar ondersteuning ten opsigte van finansiële sake met die mediesefondseise en -uitgawes.

’n Swaard oor haar kop

Prof Alida Herbst, direkteur van die Skool vir Psigososiale Gesondheid, het al gesien hoe geliefdes deur kanker geraak word. Haar ma en ouma het ’n lang, moeilike stryd teen die siekte gehad en dit oorleef. 

Sy het ook al talle pasiënte bygestaan nadat sy as maatskaplike werker gekwalifiseer en as intern by die chirurgiekliniek van 1 Militêre Hospitaal in Pretoria gewerk het. Dit het haar geïnspireer om ’n berader, ondersteuner en aktivis in borskankerbewustheid te word.

“Die swaard oor ’n mens se kop as jy in gevaar is om as gevolg van ons familiegeskiedenis kanker te ontwikkel, hang altyd oor my en my familielede, maar ons ondersteun mekaar en bestuur dit.”

Haar raad is om te besef dat kanker nie ’n doodsvonnis is wanneer dit vroeg ontdek en behandel word nie. “My ouma sowel as my ma het vir meer as 25 jaar gesonde lewens gelei nadat hulle die eerste keer gediagnoseer is.”

Prof Herbst sê dit is belangrik om:

  • te onthou, hoewel kanker fisiese letsels en misvorming laat, nuwe mediese ontdekkings beteken dat dit nie ’n vrou se vroulikheid, identiteit of gees hoef aan te tas nie.
  • soveel inligting as moontlik oor die bepaalde borskanker en die behandelingsopsies by betroubare bronne soos KANSA of jou dokter te kry om die siekte doeltreffend te bestuur.
  • ’n gewoonte daarvan te maak om jou borste maandeliks self te ondersoek en jaarliks of halfjaarliks vir ’n mammogram te gaan.
  • weer orde, roetine en betekenis ná die chaos te vind.
  • te onthou jou emosies is geldig. Wees goed vir jouself en soek professionele hulp as jou emosies buite beheer raak.
  • vas te hou aan jou geloof of spiritualiteit; dit bly ’n bron van hoop.
     

 

....

Prof Welma Lubbe

naledi solar car

Prof Alida Herbst

 

Submitted on Wed, 10/19/2022 - 10:19