NWU-kundiges bespreek die Suid-Afrikaanse ekonomie

Suid-Afrika het sedert 1994 sy derde resessie beleef en negatiewe groei lê die land se reeds sukkelende ekonomie aan bande.

Voeg hierby ’n daling van 1,4% in die bruto binnelandse produk, asook die droewige toestand van ons ondernemings in staatsbesit, en dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in ’n toestand van paniek verkeer.

Daarmee in gedagte gaan twee kundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) – prof Rhulani Hanyane en Francois Fouche – tydens die komende sake-ontbyt van die NWU Alumni en Vriende in Vanderbijlpark die stand van die ekonomie bespreek.  

Die geleentheid sal op 20 Maart plaasvind, en lede van die universiteit se alumnigroep, akademici, sake-eienaars en die lede van die gemeenskap gaan byeenkom om kwessies soos die staat- en begrotingsrede te bespreek om die impak daarvan op Jan Alleman uit te pluis.

Meer oor die kundiges

Prof Rhulani Hanyane

Prof Hanyane is ’n medeprofessor by die NWU en ’n kundige in openbare bestuur en beheer. Sy kundigheidsgebiede sluit plaaslike regering, plaaslike ekonomiese ontwikkeling, gemeenskapsdeelname, stedelike studies, die nasionale en internasionale wetenskap van openbare administrasie en politieke wetenskap, asook filosofie in.  

Voordat hy by die akademiese wêreld aangesluit het, het hy as data-ontleder by Metrofile Edms Bpk, en as ’n marknavorser by Lodge Service gewerk. As akademiese kundige het hy klas gegee en navorsing gedoen by die voormalige Vista Universiteit se Sowetokampus, die destydse Technikon Suid-Afrika, en Unisa.  

Hy het uitvoerige opleiding gegee en doen dit steeds in die Suid-Afrikaanse staatsdiens en in plaaslikeregering-omgewing, insluitende dié van ander Afrikastate soos Nigerië, Rwanda, Suid-Soedan, Kenia, Lesotho en Uganda. As kommentator is hy ook wyd bekend op nasionale televisie en radio as ’n bydraer van inhoud oor openbarebestuurskwessies.

Francois Fouche

Francois Fouche is ’n adviseur by TRADE Research Advisory (Edms) Bpk, ’n kommersiële adviesafdeling binne die NWU se TRADE-navorsingsfokusarea.

Hy het sy professionele loopbaan as ekonoom by Wharton Econometric Forecasting Associates Inc, ’n VSA-gebaseerde kommersiële dinkskrum, begin. Daar het hy op makro-ekonomiese modellering en ekonometriese ontleding van geselekteerde Afrika-lande suid van die Sahara gefokus.

As ’n tesourie-ekonoom by Barclays Capital het hy gefokus op vaste-inkomste- en ekonomiese navorsing vir institusionele beleggers, en het strategiese ekonomiese en rentekoersnavorsinginsette verskaf.

Terwyl hy by Corp Capital Bank was, was hy deel van die span wat Suid-Afrika se eerste passiewe beleggingsgekoppelde fonds daargestel het. Ander fokusareas het verskeie toepassings ingesluit van afgeleide strukture om nisafbetalingsprofiele vir institusionele beleggers te skep.  

By Global Insight Inc het sy verantwoordelikhede die diversifikasie van ekonomiesenavorsingsaanbiedings aan korporatiewe en staatsentiteite ingesluit. Hy was in daardie tyd deel van die navorsingspan wat die Regional Economic Explorer – ’n geïntegreerde subnasionale databasis van ekonomiese en sosiaal-ekonomiese statistiek – gestig het.

Sedert 2008 se beurtkragkrisis het hy op energie-ekonomie en tariefverwante bedryfsnavorsing gefokus, asook op die finansiële modellering van elektrisiteitslasbeperkingsprojekte en projekte oor ondergrondse steenkoolgasvorming.

Meer onlangs het hy as finansiële ekonomiese adviseur vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank opgetree. Sy fokus daar was in die Finansiële Markte-departement en die modernisering van Suid-Afrika se FX-reserwebestuur, asook die implementering van beste praktyk vir internasionale batebestuur. Daarna was hy ’n adviseur vir die Departement van Energie se onafhanklike kragvoorsieners oor die uitdagings vir finansiële befondsing van ’n volhoubare program wat onafhanklike kragvoorsieners ervaar, met spesiale fokus op die finansiering van hernubare energie.   

Bespreek vandag nog jou plek

As jy belangstel om die geleentheid by te woon, kontak asseblief vir Zanele Ngobese via e-pos by zanele.ngobese@nwu.ac.za of skakel 016 910 3250 of 083 756 7617.

Die geleentheid sal vanaf 08:00 tot 11:00 plaasvind. Kaartjies is beskikbaar teen R700 vir ’n tafel van 10 gaste, R140 per paar, of R70 per persoon.

 

Submitted on Tue, 03/10/2020 - 09:44