Twee gesondheidsorgkundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) het hulle insigte gedeel tydens ’n werkswinkel wat onlangs by die Witrand Psigiatriese Hospitaal gehou is om ’n bewustheid van gehalte en veiligheid in gesondheidsorg te skep.
Dr Sabelile Tenza, ’n spesialis in die gehalte van gesondheidsorg en pasiëntveiligheid, en dr Petronella Lunda, ’n kundige in moeder- en neonatale gesondheid, het die werkswinkel gelei. Albei kundiges is navorsers by die NuMIQ-navorsingsentiteit, wat deel vorm van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Die doel van die werkswinkel was om hospitaalpersoneel op te voed oor die feit dat almal wat by die hospitaal werk – ongeag hulle rolle – deel van die pasiënt se ervaring uitmaak.
Die werkswinkel, met die tema “I am the experience of care”, het hospitaalwerknemers aangemoedig om meer bewus te raak van hulle daaglikse aktiwiteite en hoe dit hulle pasiënte raak. Om die pasiënte se ervarings te verbeter, moet nie net dokters en verpleegkundiges saam werk nie, maar alle personeellede – van administratiewe personeel tot skoonmakers.
Die sessies het wêreldwye inligting oor pasiëntesorg gebruik en dit vir die spesifieke toestande in Suid-Afrika aangepas, met bepaalde klem op die unieke konteks by Witrand. Dr Tenza het haar trots uitgespreek dat sy ’n direkte bydrae tot ’n kliniese opset kon lewer.
“Dit was ’n groot voorreg om deel van hierdie innoverende werkswinkel te wees en om as gesondheidsorggehalte- en veiligheidspesialis belangrike lesse met spanne te kon deel. Ek geniet dit altyd om direk in die kliniese omgewing te werk. Veiligheid van pasiënte is almal se saak. As akademici is dit noodsaaklik dat ons maniere vind om ons ingewikkelde navorsing om te skakel in inligting wat gebruik kan word, en om spanne te bemagtig, en saam aan positiewe ervarings vir sorg vir die publiek te bou. Ons wil graag die leierskap van die Witrand Hospitaal bedank dat hulle ons uitgenooi het.”
Op haar beurt het dr Lunda ook die entoesiasme by die geleentheid geloof. “Ek het die besprekings baie insiggewend gevind. Die bemoedigende reaksie van spanne en die betrokkenheid van die leiers was opbeurend,” het sy gesê.
Om werkswinkels soos hierdie by te woon, is vir niemediese werknemers sowel as gesondheidsorgwerkers van nut. Dit help werknemers om te onthou waarom hulle doen wat hulle doen en herinner almal daaraan dat veiligheid en gehalte spanpogings is.

Dr Sabelile Tenza

Dr Petronella Lunda