NWU-kundige werp lig op mededingingsintelligensie in sport

Mededingingsintelligensie help jou met jou aspirasies deur jou toe te rus met die inligting wat jou sal bystaan in jou strewe om ’n atleet op die podium te plaas. Só sê dr Liandi van den Berg, ’n kundige in sportbestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Dr Van den Berg het onlangs tydens ’n sportdirekteursberaad in Pretoria ’n werkswinkel oor mededingingsintelligensie in sport gefasiliteer. Die werkswinkel, wat by die Hoërskool Garsfontein plaasgevind het, is deur sportdirekteurs van rugby, krieket, hokkie, atletiek en netbal bygewoon.

Dr Van den Berg het tydens die werkswinkel haar navorsingsbevindings oor mededingingsintelligensie met die afgevaardigdes gedeel en hulle oor die jongste bedryfstendense, soos gevorderde tegnologiegebaseerde analise en verfynde afrigtingstelsels, ingelig.

Deur haar kundigheid oor die onderwerp te deel, het die teenwoordige sportdirekteurs waardevolle insigte verkry oor hoe om hulle atlete en spanne se mededingendheid te bevorder.

Volgens dr Van den Berg rus mededingingsintelligensie afrigters, sportwetenskaplikes en praktisyns toe met inligting en strategiese bestuurstegnieke om prestasie optimaal te bevorder.

“Die wetenskap agter mededingingsintelligensie behels die herwinning van inligting en data uit die omgewing, vanaf die opponente en uit individuele prestasies,” verduidelik dr Van den Berg. Sy sê voorts dat sportbestuurders deur middel van mededingingsintelligensie in staat is om:

  • Die mededingingsomgewing, insluitende die teenstanders, beter te verstaan.
  • Swak punte te identifiseer en dit dienooreenkomstig te hanteer, byvoorbeeld deur nuwe tegniese maneuvers en alternatiewe wedstrydplanne te ontwerp.
  • Ingeligte besluite te neem en probleme deur middel van strategiese intervensies op te los.

“Benewens jou basiese vermoëns van spoed, krag, beheer, en wat ook al anders vereis word om ’n bepaalde sportsoort te bemeester, sal mededingingsintelligensie jou help om as gevolg van geestestaaiheid en voorbereidheid uit te styg,” sê dr Van den Berg.

Sy voeg by dat selfs die vinnigste, sterkste, en talentvolste atlete sal onderpresteer as hulle nie fokus nie, nie hulle foute kan verwerk nie, ’n gebrek aan selfvertroue het, of nie die druk kan hanteer wat met mededingende sport verband hou nie.

“Kortom, mededingingsintelligensie werk die onbeheerbare aspekte deur middel van strategiese kennis teë. Dit stel atlete in staat om beter te verstaan hoe om meer doeltreffend te speel en te oefen.”

Die gasheer, Hoërskool Garsfontein, ding teen van die heel beste skole in Gauteng mee, en sy atlete en spanne spog met verskeie sportprestasies en titels. Volgens mnr Retief Smith, die hoof van sport by die skool, beklemtoon die werkswinkel die belangrikheid van ’n weldeurdagte afrigtingsfilosofie en dit het die verskillende afgevaardigdes gemotiveer om hulle afrigtingspraktyke deur middel van mededingingsintelligensie-stelsels te verbeter. 

Dr Liandi van den Berg.

 

Submitted on Thu, 11/08/2018 - 12:38