NWU-kompetisie ontdek en ontwikkel die volgende geslag vroue-ingenieurs

Is jy ’n hoërskoolmeisie wat na die wêreld om jou kyk en maniere uitdink waarop jy dit beter kan maak? Jy kan deel wees van die volgende geslag vroue-ingenieurs wat met vars, innoverende idees ’n groot impak kan maak, nie net op Suid-Afrika en Afrika nie, maar ook in die wêreld!

Jy het nou die geleentheid om jou loopbaan in ingenieurswese af te skop en terselfdertyd ’n kans te staan om ’n unieke prys te wen as jy as algehele wenner daar wegstap. Maar maak gou – inskrywings sluit op 3 Mei 2021.  

Die Noordwes-Universiteit en die sektorale onderwys- en opleidingsgesag vir vervaardiging, ingenieurswese en verwante dienste (merSETA) het kragte saamgesnoer om deur die jaarlikse Modiragatsi-innovasiekompetisie toekomstige vroulike ingenieurs te ontdek, ontwikkel en ondersteun.

Modiragatsi gee aan hoërskoolmeisies tussen die ouderdom van 15 en 18 die geleentheid om hulle hand te waag aan die een ding waarvoor ingenieurs bekend is – probleemoplossing – en om daarin uit te blink! Selfs al is ingenieurswese tradisioneel ’n gebied wat deur mans oorheers word, is dit ’n bekende feit dat vroulike ingenieurs in kreatiewe probleemoplossing uitblink.

Die kompetisie word Modiragatsi genoem omdat dit die Tswana-woord vir presteerder is. Vroue is daardie presteerders wat Suid-Afrika sal verander en oplossings vir probleme sal vind wat ons nog nie eers geïdentifiseer het nie.

“As vroulike ingenieur wat nie net as akademikus en navorser werk nie, maar ook op praktiese gebied die ontwikkelaar van mediese toestelle is, is dit vir my duidelik dat my benadering om ingenieursoplossings te kry, baie van dié van my manlike kollegas verskil,” sê die navorser en innoveerder prof Leenta Grobler. “Ek dink as vrou sien ek probleme op ’n ander manier, aangesien ek op die beoogde gebruiker van die produk fokus en hulle aktief by die ontwikkeling van die produk betrek. Ek glo vas dat vroue ’n belangrike rol het om te speel, veral wat ingenieursprodukte betref wat spesifiek op vrouegebruikers gerig is.”

Sy sê die finaliste in die kompetisie sal met nuwe vaardighede in denke oor ontwerp, kreatiewe probleemoplossing, gevorderde vervaardigingsmetodes, die ontwikkeling van mobiele toepassings en inleidende robotika bemagtig word.

Sien jy ’n probleem? Soek ’n oplossing en wen!

Al wat deelnemers aan die kompetisie moet doen, is om ’n probleem te identifiseer waaroor hulle passievol is of wat hulle al self ervaar het. Hulle moet dan ’n konsepoplossing daarvoor ontwikkel wat op tegnologie gegrond is.

Vir die eerste fase van die kompetisie moet jy ’n opsomming van 250 woorde- en óf ’n video van twee minute óf ’n skyfievertoning met 15 skyfies voorlê wat die probleem verduidelik, asook die voorgestelde oplossing vir die probleem wat jy geïdentifiseer het.

Die semifinaliste sal uit spanne van twee meisies en hulle wiskunde- of wetenskaponderwyser bestaan, en sal van regoor die land gekies word. Hulle sal in ’n aanlyn mentorskap-opleidingsprogram gehuisves word wat tydens die winterskoolvakansie deur die NWU se Fakulteit Ingenieurswese gefasiliteer/aangebied sal word.

Ná die mentorskapprogram sal spanne hulle idees en oplossings vir die uiteindelike prys voorlê:  ’n unieke tegnologietoer vir die meisies en hulle onderwyser na Silicon Valley in Kalifornië en die bywoning van die Girls in Tech Catalyst-konferensie in Junie 2022.

Fakulteit dra vroue-ingenieurs op die hart

Die NWU se Fakulteit Ingenieurswese word met trots deur ’n vroulike dekaan, prof Liezel van Dyk, gelei. Hulle spog ook met ’n beduidende getal inspirerende vroulike rolmodelle, wat onder andere prof Sanette Marx, ’n kundige op die gebied van biobrandstof, prof Leenta Grobler, ’n kundige op die gebied van digitale gesondheid, en mev Nthabiseng Modiri, ’n navorser in koolstofgebaseerde produkte, insluit.

Die fakulteit probeer om deurgaans die getal vroue-ingenieurs te vermeerder wat vir indiensneming in die bedryf beskikbaar is, en om geslagsgelykheid in die werkplek te bevorder.

Benewens die Modiragatsi-kompetisie, het die NWU se vennootskap met die merSETA om ’n toegewyde Vroue in Ingenieurswese-program (WiE-program) te ontwikkel, ook ’n aantal projekte moontlik gemaak, wat die volgende insluit:

• Die Femmegineering-geleentheid: ’n konferensie vir hoërskoolmeisies om hulle aan ingenieurswese as ’n loopbaan bloot te stel.

• Die i-code-robot, wat ’n driedag-kortkursus is om laerskoolonderwysers se vaardighede in kodering en robotika te verskerp om hulle vir hierdie nuwe kurrikuluminhoud voor te berei.

• Die Femmtor-beursskema vir verdienstelike vroulike voorgraadse en nagraadse studente.

Vir meer inligting oor Femmegineering, besoek www.engineering.nwu.ac.za/femmegineering.  

Vir meer inligting oor die kompetisie, besoek: http://engineering.nwu.ac.za/engineering/modiragatsi-girls-competition, of kontak Prof Leenta Grobler by 018 299 4058 of leenta.grobler@nwu.ac.za.

........

Prof Leenta Grobler.

Submitted on Wed, 03/24/2021 - 09:34