NWU-kompetisie inspireer die jeug om nuwe innoverende oplossings te vind

Die Noordwes-Universiteit se jaarlikse Modiragatsi-innoveringskompetisie wat aan hoërskoolleerders tussen die ouderdom van 15 en 18 jaar die geleentheid gee om die volgende geslag probleemoplossers te word, is terug, en dit is hierdie jaar nog groter en beter.

Die kompetisie se vernaamste fokus is steeds om hoërskoolmeisies te bemagtig, maar van hierdie jaar af word seuns ook toegelaat om in te skryf solank hulle deel van ’n span van twee is waarvan een van die deelnemers as vroulik identifiseer.

Die wendeelnemer, hetsy alleen of as deel van ’n span van twee, staan die kans om wonderlike pryse te wen. Dit sluit ’n oorsese tegnologietoer in waar alles vir hulle en hulle onderwyser betaal word, asook ’n studiebeurs van Siemens.

Van hierdie jaar af word die kompetisie deur die NWU Besigheidskool, in samewerking met die Fakulteit Ingenieurswese, aangebied. Dit word deur die Sektorale onderwys- en opleidingsgesag vir vervaardiging, ingenieurswese en verwante dienste (merSETA) en Siemens geborg.

Deelnemers kan in een van ses kategorieë meeding:

  1. Voedselsekerheid, energie en water
  2. Township-ekonomie
  3. Die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld
  4. Veiligheid en sekuriteit
  5. Gesondheidsorg (insluitende geestesgesondheid)
  6. Onderwys

Wanneer hulle die probleem en die oplossing geïdentifiseer het, moet hulle ’n kort video maak om dit te verduidelik en dit saam met die aanlyn inskrywingsvorm indien. Deelnemers het nie ’n werkende prototipe nodig nie.

Die semifinaliste sal vanaf 12 April een keer per week vir ’n tydperk van 12 weke by ’n aanlyn mentorskapprogram inskakel. Dit sal hulle help om hulle idee in ’n produk en dan in ’n besigheidskonsep te ontwikkel.

“Dit is ’n uitstekende geleentheid om nie net ’n probleem in jou eie gemeenskap op te los nie, maar ook om nuwe vaardighede in produkontwikkeling en probleemoplossing deur middel van ontwerpdenke, die ontwikkeling van mobiele apps en besigheidsmodellering te verkry,” sê prof Leenta Grobler, medeprofessor in digitalisering en digitale ekonomieë.

Prof Leenta sê benewens die nuwe tegniese inhoud van die program, sal die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe ook tydens die reis na die persoonlike ontwikkeling van die deelnemers omsien om die 2022-tema: “Be the Change” uit te leef.

Sy sê die spanne sal aan die einde van die mentorskapprogram in Julie ’n finale verslag en video moet indien. Dit sal gebruik word om die wenspan te kies.

Paballo Diyase ― verlede jaar se wenner wat tans in graad 12 in die Hoër Meisieskool in Potchefstroom is – sê dat die kompetisie ’n wonderlike geleentheid is. “Ek was geëerd om as semifinalis gekies te word. Dit het aan my ’n platform verskaf om nuwe vaardighede in onder andere die ontwikkeling van mobiele apps, asook in berekenings- en ontwerpdenke te verkry. Ek is deur die kompetisie uitgedaag om my innoveringsvaardighede en kreatiwiteit verder te ontwikkel. Ek het dit ook geniet om kontak met ander jong dames te hê wat net so gedrewe soos ek is om die probleme aan te durf wat deur ons Suid-Afrikaanse samelewing ervaar word.”

“Die ervaring in sy geheel was bemagtigend en insiggewend. Ek het baie respek vir ingenieurs gekry wat agter die skerms werk en die tegnologie ontwikkel wat ons elke dag gebruik.”

As jy vir die kompetisie wil inskryf, moet jy spring! Die tyd loop uit met aansoeke wat op 25 Maart 2022 sluit.  Die wenners sal op 9 Augustus by die jaarlikse Femmegineering-funksie aangekondig word tydens ’n glansgeleentheid wat deur Siemens in Johannesburg aangebied word.

Vir meer inligting besoek: https://commerce.nwu.ac.za/business-school/modiragatsi

 

 

Prof Leenta Grobler

Prof Leenta Grobler

Paballo Diyase

Paballo Diyase

Submitted on Wed, 03/02/2022 - 10:29