Dit is ʼn bekende gesig daar waar die Mooirivier om die Fanie du Toit-sportterrein kronkel. Net onder die Hoëprestasieinstituut is daar sowat 100 m wat as ʼn gevaarvliegsone vir ons geveerde vriende moet dien. Spiese vlieg hier.
ʼn Ander konstante hier is die NWU se spiesgooi-ghoeroe, Terseus Liebenberg, en hoewel die atlete langs hom op die veld wissel, is hulle uitnemende prestasies ’n gemene deler.
Jo-Ané van Dyk se onlangse toevoeging tot die Suid-Afrikaanse span wat van 23 Julie tot 8 Augustus in Tokio, Japan aan die Olimpiese Spele gaan deelneem, beteken dat sy die vierde NWU-spiesgooier is wat dié eer toekom.
Van Dyk volg in die voetspore van Sunette Viljoen, Justine Robbeson en Hardus Pienaar. Dan moet mens ook nie nalaat om na Marius Corbett te kyk nie. Corbett het in die 1990’s ʼn nalatenskap soos min uitgekerf. Al hierdie atlete kom uit NWU-geledere en het vir Liebenberg as afrigter.
Oor sy nuutste Olimpiese fonds kan dié gesiene afrigter nie uitgepraat raak nie: “Sy is ʼn juweel. Watter voorreg om met so ʼn atleet te kan werk. Sy is ʼn kampioenspiesgooier en ʼn kampioen van die lewe.”
Die groeimiddel is Liebenberg se kennis, die teelaarde is die NWU, maar wat is die geheim agter die universiteit se immergroen spiesgooisukses? “Harde werk,” sê hy sonder om te huiwer. “Sterk bome groei stadig. Dit neem tyd om groeivolwassenheid te bereik. Jy moet in jou doelwitte glo en met geduld daarheen werk.”
Dis juis hierdie rede wat Van Dyk (23) se opkoms so verstommend maak. “Sy is nou maar eers aan die begin van haar loopbaan. ʼn Wonderlike wêreld van voortreflikheid wag op haar.”
Oor Sunette Viljoen is al genoeg geskryf om ʼn inkvis jaloers te maak. Silwer by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro 2016, en ʼn vierde plek by Londen in 2012. Tweemalige Statebondspelekampioen. Vyf keer Afrika se kampioen. ’n Mens kan nie elke byeenkoms, elke brons- of silwermedalje opnoem nie. Jy kan ʼn leser se aandag ook net so lank hou.
Hoewel Viljoen se tydgenoot, Justine Robbeson, in die skadu van ʼn reus geloop het, het sy gereeld ook die son gevind. Sy was in 2006 die Afrikakampioen en het twee keer koning by die All Africa-kampioenskap gekraai. In 2008 was haar naam langs die Afrikarekord geskryf voordat Viljoen dit ʼn jaar later weggeraap het. Hier is ʼn hartseer storie: “By die Spele in Londen was Justine drie dae lank met griep platgetrek. Ek was saam met haar in die stadion tydens die kwalifisering vir die eindrondte toe sy vir my sê dat sy sukkel om asem te haal. Sy het die kwalifiseringsafstand met ʼn paar sentimeter gemis.” Robbeson het dertiende geëindig – net die eerste twaalf gaan deur.
Die dorp Bambous staar uit oor die Indiese Oseaan vanaf sy staanplek in Mauritius tot oor die westehorison Madagaskar se kant toe. Dit is hier waar Hardus Pienaar in 2006 vir die derde keer die Afrikakampioenskap ingepalm het. ʼn Wêreld Juniorkampioenskap asook ʼn eindelose rits pragprestasies het van Pienaar, ʼn boorling van Rustenburg, ʼn ster gemaak. Olimpiese glorie was hom egter nie beskore nie, en hy het by die 2004 Spele in Atene veertiende geëindig.
Corbett is die spreekwoordelike peetpa van die nuwe millennium se sterre. Daarbenewens was hy doodeenvoudig ʼn yster. In 1994 as ʼn eerstejaarstudent by Veritas-manskoshuis wen hy die Junior Wêreldkampioenskap in Portugal, hy verbeter die SA 0/20-rekord by drie geleenthede, en in 1997 word hy Suid-Afrika se eerste baan-en-veld-wêreldkampioen in Griekeland, met ʼn nuwe SA rekord van 88,40 m. Hy het die Wêrelduniversiteitspele-titel in 1997 en in 1998 die Statebondspele in Maleisië gewen. Sy gooi dóér in Kuala Lumpur op 21 September het 88,75 m gemeet en hierdie rekord staan steeds. Nadat hy sy spies neergelê het, het hy die rugbybal opgetel en vir die Luiperds in die Eerste Liga van die Curriebeker uitgedraf. Liebenberg het self gaan kyk hoe Corbett teenstanders op Olënpark laat stof proe het: “Hy was ʼn woeste speler!”.
Hierdie is maar ʼn handvol van tientalle uitblinkers. Mag die sterk bome lank groei.