Die implementering van die strategie van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat onlangs goedgekeur is, is besig om positiewe resultate te toon. Die strategie – Neem die NWU vorentoe: 2024 en daarna – prioritiseer onder andere internasionalisering, vennootskappe en impak. Gevolglik word die NWU nou onder die top-4,1% van universiteite wêreldwyd gegradeer. Dit is volgens die 2025-uitgawe van die uitkomsgebaseerde Global 2000-ranglys van die Center for World University Rankings (CWUR). Die CWUR het die jongste ranglys op 2 Junie gepubliseer.
Die NWU het vanaf sy 4,2%-posisie op verlede jaar se lys opgeskuif en word nou 860ste uit die 21 462 universiteite vir akademiese prestasie gegradeer, en skitter onder die topsewe plaaslik en die top-11 in Afrika. Die NWU maak ’n indrukwekkende vertoning op die ranglys met die 1 610de (1 682ste verlede jaar) en die 820ste (825ste) plek vir onderskeidelik indiensneembaarheid en navorsing, met ’n algehele telling van 71,5. Dit is ’n verbetering op verlede jaar se algehele telling van 71,3.
Die jongste indrukwekkende vertoning op die ranglys beklemtoon die verbintenis van die NWU om plaaslik en internasionaal ’n leidende universiteit te wees. Die universiteit se strategie is besig om vrug te dra, terwyl dit deurgaans ’n impak deur innovasie en vooruitskouende benaderings en programme maak.
Onlangse sleutelontwikkelings toon dat die universiteit betekenisvol op verskillende gebiede groei en uitbrei. Hierdie ontwikkelings sluit die stigting van NWU Desmond Tutu School of Medicine, die NWU Sentrum vir Volhoubare Mynbou, die NWU Skool vir Veeartsenykunde en die universiteit se Agri- en Kunsmatige Intelligensie-sentrums in. Die doel van hierdie strategiese inisiatiewe is om die impak en groei van die NWU te bevorder, terwyl diversiteit uitgebou en bedryfsuitnemendheid versterk word.
Die jongste graderings is ’n duidelike aanduiding dat die NWU deur sy kundigheid en inisiatiewe onder die bestes in die wêreld gereken kan word. Die NWU is reeds ’n beduidende internasionale rolspeler, met 163 aktiewe internasionale institusionele vennootskappe en ooreenkomste wat oor 50 lande strek.
Hierdie samewerkings versterk die universiteit se bydrae tot navorsing en innovasie, asook tot onderrig en leer.
Meer oor die CWUR se ranglys
Die CWUR publiseer die grootste akademiese ranglys van universiteite wêreldwyd. Die ranglys is uniek in dié sin dat objektiewe aanwysers gebruik word vir al vier sleutelpilare wat die metodologie van die ranglys onderlê, met geen steun op opnames en datavoorlegging deur universiteite nie. Hulle plaas ook gelyke klem op studenteverwante en fakulteitsverwante aanwysers.
Die graderingsagentskap gebruik sewe objektiewe en robuuste uitkomsgebaseerde aanwysers wat in vier areas gegroepeer word om die wêreld se universiteite te gradeer: onderwys (25%),
indiensneembaarheid (25%), fakulteit (10%), en navorsing (uitset, 10%; hoëgehalte-publikasies, 10%; invloed, 10%; aanhalings, 10%).
Dr Nadim Mahassen, president van die CWUR, sê die agentskap is ’n leidende konsultasie-organisasie wat beleidsadvies, strategiese insigte en konsultasiedienste aan regerings en universiteite verskaf om opvoedkundige en navorsingsuitkomste te verbeter.
“Ons gesaghebbende wêreldwye universiteitsranglyste is bekend vir hulle objektiwiteit, deursigtigheid en konsekwentheid, en word deur studente, akademici, universiteitsadministrateurs en regerings van regoor die wêreld vertrou.” Vir meer inligting, besoek die CWUR se webwerf by http://www.cwur.org.