NWU-Juta-skynverhore – oorbrugging van die gaping tussen teorie en praktyk al ’n dekade lank aan die gang

Die gewilde jaarlikse NWU-Juta-skynverhoorkompetisie het op 2 Augustus sy tiende verjaardag in ’n virtuele hofsaal gevier. Dit was die eerste keer dat die hele kompetisie, van die eerste uitskakelrondtes tot by die finale rondte, aanlyn plaasgevind het.

’n Gekombineerde NWU-span van derdejaarstudente wat die staat verteenwoordig het, was hierdie jaar se wenners. Die span, bestaande uit Jacob Masumpa, Thato Montigwe, Luthando Swartz en Raymond van Vuuren, was die wenners in ’n saak van huishoudelike geweld waar die klaer nie net aangerand is en met ’n mes gesteek is nie, maar waar die aangeklaagde ook die voorwaardes van ’n beskermingsbevel verontagsaam het. Die verhoor het ingepas by die tema van maatskaplike geregtigheid gedurende Covid-19 en was die Regsfakulteit se begin van Vrouemaand.

Die voorsittende beampte, advokaat Mark Adams, wat sedert die ontstaan daarvan in 2011 by die NWU-Juta-skynverhoorkompetisie betrokke is, het ten gunste van die staat bevind. Hy sê hoewel albei spanne met hulle voorbereiding gedurende die verhoor beïndruk het, dit die wenspan was wat daarin geslaag het om hulle saak bo redelike twyfel te bewys.  

“Hulle het hulle baie goed van hulle taak gekwyt deur te verwys na regspraak wat in ooreenstemming was met punte wat die hof gemaak het. Ek was beïndruk met die manier waarop hulle die getuie gelei het, die detail wat hulle op rekord geplaas het en hulle uitstekende kruisondervraging.”

Adv Steve Allcock van Juta het al die deelnemers met hulle toewyding gelukgewens en gesê dat almal trots behoort te voel op wat hulle vermag het. “Voorbereiding vir ’n verhoor en die aanbieding in die hof is moeilike vaardighede om te bemeester. Verhoorvaardighede is noodsaaklik om die verloop van die litigasieproses te verstaan en vir die goeie voorbereiding van ’n behoorlike saak vir ’n kliënt.” Hy sê dit was inspirerend om te sien hoe deurdag en goed voorbereid die aanbiedings was. Juta is sedert 2013 die medeborg van die skynverhoorkompetisie.

Die wenspan het ook die Facebook-fotokompetisie gewen wat deel van hierdie jaar se kompetisie gevorm het.

Die span vir die verdediging het uit Kamo Khupuza, Xolane Masango, Jaline Mothobi en Xoli Zekiso bestaan.

Die twee spanne in die finale rondte deel pryse ter waarde van R40 000.

Sewe tutors het die deelnemers aan hierdie jaar se skynverhore ondersteun. Hulle is Gabrielle Burns, adv René Koraan, Celia Lourens, adv Steven Serumaga-Zake, Friedel Steenekamp, Myrone Stoffels en adv Getsia Zazo.

Alumni is die bewys van die impak van die NWU-Juta-skynverhore

Een van die hoogtepunte van hierdie gebeurtenis was ’n video waarin verskeie alumni wat nou loopbane in die regsgemeenskap het, asook tutors en ander belanghebbers, nie net vir advokaat René Koraan en die organiseerders van die NWU-Juta-skynverhore met hulle tiende verjaardag gelukwens nie, maar ook getuig het watter impak die NWU-Juta-skynverhore op hulle gehad het terwyl hulle vir hulle professionele loopbane voorberei het.

Talle van hulle het gesê dat die skynverhore een van hulle gunstelingherinneringe tydens hulle studie is, en hulle moedig toekomstige studente aan om daaraan deel te neem.

Sheree Kristen, ’n prokureur en voormalige deelnemer, sê dat sy tydens haar studentedae baie uit die verhore geleer het. “Dit het beslis vir my die gaping tussen teorie en die praktiese wêreld oorbrug. Ek was voorbereid toe ek by die hof moes instap en toe ek my klerkskap gedoen het. Ek het geweet dat ek kon terugval op wat ek in die skynverhore geleer het. Dit is ’n ongelooflike inisiatief.”

Prokureur Lebogang Moilwa, wat ’n voormalige wenner van die skynverhore is, sê dit is deur hierdie inisiatief dat studente die praktiese aspek van die reg leer. “Ek kon leer hoe om getuies te hanteer en hoe belangrik dit is om die feite te verstaan. Die skynverhore slyp ’n mens se vaardighede en bou jou selfvertroue, jou navorsingvaardighede en jou begrip van die reg.”

Gaopalelwe Mathiba, ’n dosent, sê daar is twee belangrike lesse wat hy tydens sy betrokkenheid geleer het. Die eerste een is selfvertroue – die vermoë om voor mense te staan, jouself goed uit te druk en sonder enige twyfel in jouself met hulle te praat, met spanwerk as die tweede belangrike les. Die skynverhore is baie progressief en insigryk, en inspireer en bemagtig steeds daardie studente wat die voorreg het om daaraan deel te neem, en maak hulle bekwaam.”

Kandidaatprokureur Davin Olen sê hy moedig studente aan om aan die skynverhore deel te neem en hulle litigasievaardighede te slyp. Die kompetisie het ’n beduidende impak op die manier waarop ’n mens die reg benader.”

Advokaat se visie word beloon

Dr Neo Morei, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Regte, sê dat die belangrikheid van die skynverhore nie genoeg beklemtoon kan word nie. “Benewens dat die studente met kennis van die regstelsel, die regsprosesse en hofprosedures toegerus word, leer die skynverhore vir hulle noodsaaklike vaardighede soos openbare redevoering, kritiese denke en die kuns om ’n oortuigende en samehangende argument te voer. Dit is noodsaaklik vir ons studente, aangesien dit ’n oorgang van die studie van die regte na die praktyk van die reg verskaf. Dit leer ’n mens om ’n vaardige en bekwame litigator te wees.”

Die NWU-Juta-skynverhoorkompetisie is die produk van die visie van adv René Koraan, direkteur vir Professionele Ontwikkeling en Gemeenskapsbetrokkenheid en senior lektor in die Fakulteit Regte op die kampus in Potchefstroom. Sy het in 2011 met die kompetisie begin, aanvanklik vir die Potchefstroomkampus, maar sedert 2014 het dit tot ’n interkampuskompetisie uitgebrei. Sy het dit as ’n geleentheid beskou vir tweede- en derdejaarstudente om broodnodige ervaring op te doen.

René sê die NWU-Juta-skynverhoorkompetisie sal met sy missie voortgaan om aan regstudente die geleentheid te gee om praktiese ervaring op te doen. Daar het hierdie jaar meer as 140 studente aan die skynverhore deelgeneem. Die aanlyn gebeurtenis is deur dosente, lede van die personeel, lede van die regbank, prokureurs, advokate en verteenwoordigers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bygewoon.

“Studente is gretig om te leer en ekstra werk te doen, nie net om die kompetisie te wen nie, maar om bekwamer te word. Ons moet nooit die impak onderskat wat kompetisies en werkswinkels soos hierdie op die ontwikkeling van jong aspirantprokureurs het nie.”

........

........

........

........

Die wenspan wat met die titel van 2021 NWU-Juta-skynverhoorwenners weggestap het. Hulle is Jacob Masumpa, Thato Montigwe, Luthando Swartz en Raymond van Vuuren.

Submitted on Tue, 08/03/2021 - 15:26