NWU-Juta-skynverhoorkompetisie vier sy tiende verjaardag met aanlyn verhore

Die gewilde jaarlikse NWU-Juta-skynverhoorkompetisie vier sy tiende verjaardag. Die kompetisie sal hierdie jaar in ’n aanlyn formaat plaasvind.

As gevolg van die Covid-19-pandemie het die Juta-skynverhoorkompetisie nie in 2020 plaasgevind nie, maar gaan hierdie jaar voort met die oog daarop om regstudente die geleentheid te gee om praktiese ervaring op te doen.

Die kompetisie is die produk van die visie van adv René Koraan, direkteur vir professionele ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid en senior lektor in die Fakulteit Regte op die kampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom.

René het in 2011 met die kompetisie begin, aanvanklik vir die Potchefstroomkampus, maar sedert 2014 het dit tot ’n interkampuskompetisie uitgebrei. Sy het dit as ’n geleentheid beskou vir tweede- en derdejaarstudente om broodnodige ervaring op te doen. Dit bied ook aansporingsmiddels in die vorm van pryse. In 2019 het die wenners met pryse ter waarde van R60 000 weggestap.

Koraan sê studente het hierdie jaar alle verwagtings oortref met 140 inskrywings van regoor die NWU se kampusse. Die eerste uitskakelingsrondtes is reeds voltooi, en die halfeindstryd is geskeduleer om op 31 Julie plaas te vind. Die finale rondte van die kompetisie sal uit twee spanne bestaan wat op 2 Augustus teen mekaar sal meeding.

“Studente geniet die kompetisie en is gretig om te leer,” sê René. “Dit is duidelik dat die studente elke jaar verbeter. Hulle doen ook ekstra werk – nie net om die kompetisie te wen nie, maar om beter te wees. Ons moet nooit die impak onderskat wat kompetisies en werkswinkels soos hierdie op die ontwikkeling van jong aspirantprokureurs het nie.”

........

Soos in vorige jare, was die 2019-skynverhore uiters gewild, met spanne van al die NWU-kampusse wat deelgeneem het. Die geleentheid is ook deur verskeie belangrike gaste uit die regsberoep bygewoon.

Submitted on Wed, 07/21/2021 - 09:28