NWU hoof en visekanselier vereer met aanstelling as adjunkprofessor by topuniversiteit in VS

Die droom van die Noordwes-Universiteit (NWU) om ’n internasionaal erkende universiteit te wees, het onlangs ’n hupstoot gekry deur die aanstelling van sy hoof en visekanselier as adjunkprofessor by een van die topuniversiteite in die Verenigde State van Amerika.

Die Kollege vir Ingenieurswese by die North Carolina State University (NCSU) het vir dr Bismark Tyobeka vanaf 1 November 2022 vir ’n tydperk van drie jaar as adjunkprofessor in Kerningenieurswese aangestel. Adjunkprofessors in die Verenigde State se stelsel van hoër onderwys beklee posisies sonder vergoeding. Hierdie aanstelling sal dr Tyobeka se werk as hoof en visekanselier van die NWU bevorder en hom en die NWU in staat stel om geleenthede vir betrokkenheid tussen die twee instellings te bou. Die Centre for World University Rankings (CWUR) plaas die North Carolina State University onder die top-1% wêreldwyd. In 2021, het die US News & World Report hulle ranglys vrygestel en die NCSU se Kerningenieurswese-graadprogram is as #3 aangedui, en onder die openbare universiteite word die NCSU se Kerningenieursweseprogram as no #2 gelys.

Dr Tyobeka, ’n voorste en wêreldwye kundige oor kernkrag wat al met talle universiteite in die buiteland saamgewerk het, maak steeds ’n impak op die internasionale verhoog, en in daardie opsig skep hy ’n wêreldprofiel vir die NWU. In sy hoedanigheid as adjunkprofessor sal dr Tyobeka se verantwoordelikhede die ontwikkeling van gesamentlike navorsing en onderwyssamewerkingsgeleenthede tussen die Kollege van Ingenieurswese van die NCSU en die NWU insluit. Hy sal ook verantwoordelik wees vir die koördinering van uitruilbesoeke tussen dosente en studente en die studieleiding en gesamentlike raadgewing aan gegradueerde studente ten opsigte van navorsing, asook met gegradueerde studente werk om navorsing vir verhandelings te ontwikkel.

Mnr Bert Sorgdrager, voorsitter van die NWU Raad, sê, “Ons is verheug dat ons visekanselier se kennis en vaardighede deur internasionaal geëerde organisasies erken word. Ons is vol vertroue dat benewens dat dit vir ons personeel en studente navorsingsgeleenthede gee, hierdie erkenning ons besluit om in ons internasionaliseringsprogram te belê en meer vennootskappe te vestig, sal versterk.”

Volgens dr Tyobeka is dit een van die maniere om ons reis te bevorder na die verwerkliking van die NWU se droom om internasionaal erken te word vir sy uitnemendheid, nie net in Afrika nie, maar regoor die wêreld. “Internasionalisering is die sleutel tot die bou van die NWU se internasionale reputasie en om ons voetspoor te verbreed en vas te lê,” sê hy.

Dr Tyobeka glo dat daar twee maniere is om die NWU na die wêreld toe te neem. Eerstens deur dosente en navorsers by internasionale vennootskappe te betrek, en tweedens deur vriendskappe op ’n wêreldwye skaal te bou.

“Die Verenigde State is die tuiste van sommige van die grootste en mees gerespekteerde universiteite. As ons ons deel in internasionalisering doen, moet ons goeie verhoudings daar vorm en koester. Ek sal voortgaan met my netwerke van baie jare gelede toe ek in die buiteland gewerk het om wedersyds voordelige verhoudings te bou en nuwe deure en goeie geleenthede vir die NWU se studente, dosente en navorsers te ontsluit,” sê dr Tyobeka. 

Die dekaan van die Kollege vir Ingenieurswese aan die NCSU, dr Louis A Martin-Vega, sê hy en sy kollegas sien uit na die samewerking met dr Tyobeka.

Meer inligting oor die NCSU se Kollege vir Ingenieurswese kan hier gevind word.

Dr Bismark Tyobeka

Die Kollege vir Ingenieurswese by die North Carolina State University het vir dr Bismark Tyobeka, NWU hoof en visekanselier, as adjunkprofessor in Kerningenieurswese aangestel.

Submitted on Tue, 11/01/2022 - 08:57