NWU: Hoekom dit duidelik is waarom skaars rekeningkundige vaardighede ontwikkel moet word

As daar nie goeie oorsig is nie, ly uitsette daaronder. Sonder deursigtigheid floreer bedrog. Waninligting en waninterpretasie word gepropageer om die norm te raak namate fiksie nie meer van feite onderskei kan word nie. In ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika wat ’n magdom uitdagings in die gesig staar, kan dit nie toegelaat word nie.

’n Voorbeeld hiervan is ’n ekonomie wat toenemend sukkel om wakker te word uit ’n lang slaap wat veroorsaak is deur die Covid-19-pandemie, voortslepende kragonderbrekings en wydverspreide korrupsie in instellings wat die basis van die gesondheid van die land behoort te wees.

Vir die Noordwes-Universiteit (NWU) beteken dit dat die ontwikkeling van skaars vaardighede nie meer beskou kan word as ’n opsionele komponent wat deel van ’n groter oplossing vir die land se treurmares moet wees nie, maar as ’n onmisbare een wat geprioritiseer moet word.

“Suid-Afrika het skaars vaardighede dringend nodig omdat dit vir ons sosio-ekonomiese ontwikkeling noodsaaklik is. Dit sluit vaardighede in wat met finansies verband hou, soos dié wat deur rekenmeesters gelewer word,” sê prof Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die NWU se Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe.

“As land het ons ver gevorder om ongelykhede in inkomste te verminder en volhoubare sake- en entrepreneursgeleenthede in alle sektore van die samelewing te bevorder, maar daar is steeds te veel geleenthede vir groei wat verlore gaan,” verduidelik sy.

Net die beste is goed genoeg, en die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe het homself weer eens as ’n onbetwiste leier op sy gebied onderskei met die onlangse aankondiging deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) dat die skool se Baccalaureus Commercii in Finansiële Rekenmeesterskap en die Verlengde Baccalaureus Commercii in Finansiële Rekenmeesterskap vir die doel van die SAIGR se benaming van Assosiaat Algemene Rekenmeester [AAR(SA)] geakkrediteer is.

Die NWU is ook die enigste universiteit in die land wat ’n graad in forensiese rekenmeesterskap aanbied – ’n noodsaaklike instrument wat help om handelsmisdaad op te spoor, te voorkom en te ondersoek.

“Ons moet so veel as moontlik die ontwikkeling van kundigheid prioritiseer wat tot voordeel van die land sal wees. Geoktrooieerde, forensiese en ander professionele rekenmeesters verseker dat aanspreeklikheid, doeltreffende risikobestuur en die handhawing van die integriteit van sakeondernemings en finansiële instellings in die kollig bly. Daarsonder verloor ons die geleentheid vir kapasiteitsbou, en volhoubare werksgeleenthede gaan verlore.

“Hoe kan ons in die buiteland as ’n aantreklike beleggingsgeleentheid beskou word as ons eie huis nie in orde is nie? Dit is waarom die land rekenmeesters van die hoogste gehalte nodig het en dit is waarom die NWU vasberade is om hulle te produseer,” sê prof Janse van Vuuren.

“Ons kan deur eerlikheid en integriteit help om vergelykings te balanseer wat skeefgetrek is ten gunste van praktyke wat die welstand van alle Suid-Afrikaners skaad. Geleenthede is skaars produkte, en dit is rekenmeesters se verantwoordelikheid om seker te maak dat dit gebruik word, en nie misbruik word nie.

Prof Heleen Janse van Vuuren.

Submitted on Wed, 08/30/2023 - 10:56