NWU het sy kapasiteit bereik – geen instapstudente toegelaat tydens die registrasie van eerstejaarstudente nie

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sal nie tydens die registrasietyd vir eerstejaarstudente in 2021 persone wat nie vir toelating gekwalifiseer het nie, nie ’n aanbod om te studeer ontvang het nie, of dié wat laat aansoek gedoen het, toelaat om sy kampusse as sogenaamde instapstudente te betree nie.

Die NWU het reeds sy volle kapasiteit vir sy 2021-innames (vir al die kwalifikasies) bereik, en daar is geen ekstra plekke beskikbaar nie. Bykans 90 000 aansoeke is ontvang waarvan slegs 10 933 akkommodeer kan word in terme van ons inskrywingsteiken. 

In ooreenstemming met streng Covid-19-protokol sal geen massabyeenkoms by die kampus se hekke en die toelatingskantore toegelaat word nie.  

“Die NWU is trots op elke graad 12-leerder wat hulle skoolloopbaan suksesvol gaan voltooi en wens hulle by voorbaat alles van die beste toe vir hulle toekomstige ondernemings.  Ongelukkig kan ons bloot geen instapstudent akkommodeer wat nie tydens die aansoekproses van verlede jaar gekwalifiseer het nie,” sê die adjunkregistrateur, prof Michael Temane.

Hy sê dat instapstudente meestal studente is wat nie aanvaar is nie en wat steeds wil studeer, maar nie aan die kriteria voldoen nie, of nie vir toelating aansoek gedoen het nie.

Enige studente wat onseker is of hulle toegelaat is om aan die NWU te studeer, moet ná 24 Februarie 2021, wanneer matriekuitslae beskikbaar sal wees, die Sentrale Toelatings- en Aansoekkantoor (STAK) se oproepsentrum of enigeen van die NWU-kampusse se hulptoonbanke skakel.

Sentrale Toelatings- en Aansoekkantoor: 018 285 4320

Mahikeng: 018 389 2252/018 389 2525

Potchefstroom: 018 285 2692/018 299 4055

Vanderbijlpark: 016 910 3114/016 910 3023

Prof Temane herinner onsuksesvolle aansoekers daaraan dat hulle aanlyn by die Central Applications Clearing House (CACH) se webwerf kan registreer. Die CACH stuur voornemende studente se inligting na alle tersiêre instellings. Hierdie instellings kan hulle kontak indien plekke beskikbaar is en as studente aan die vereistes voldoen.

Vir meer inligting oor die CACH, besoek: https://www.gov.za/services/central-applications-clearing-house#.

Submitted on Tue, 02/16/2021 - 14:24