NWU hersien die farmasie-internskapprogram

Vir die meeste gegradueerde farmasiestudente is die verpligte eenjaar-internskap in farmasie die eerste stap na hulle diens aan die gemeenskap en die begin van hulle professionele loopbane as aptekers in Suid-Afrika.

Die doel van die internskapjaar is om gegradueerdes te help om die kennis en vaardighede toe te pas wat hulle tydens hulle voorgraadse studies verwerf het. Farmasie-nterns moet aan spesifieke vereistes voldoen voordat hulle as aptekers kan registreer, insluitende dat hulle ’n aanlyn voorregistrasie-eksamen moet slaag, ses deurlopende professionele ontwikkelingsaktiwiteite moet voltooi, en dat hulle toesighoudende apteker gunstige vorderingsverslae oor hulle moet verskaf.

’n Samewerkende navorsingsprojek tussen die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR) wil die internskapprogram uitbou om vir die veranderende gesondheidsbehoeftes van Suid-Afrikaners voorsiening te maak.

Prof Martie Lubbe van die Medisyneverbruik in Suid-Afrika-navorsingsentiteit (MUSA) by die Fakulteit Gesondheidswetenskappe en projekleier van die farmasie-internskaphersieningsprojek, sê die projek sal ’n beduidende impak op verdere ontwikkeling van die internskapprogram hê.

“Hierdie projek sal ons in staat stel om relevante inligting aan die SAAR te verskaf om as raamwerk vir ’n moontlike herstrukturering van die farmasie-internskapprogram te gebruik. Dit sal help om die program met ontwikkelende gesondheidsbehoeftes te belyn.”

Sy sê die projek sal ook ’n impak hê in dié sin dat dit die Departement van Gesondheid en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding sal help om te verstaan watter hulpbronne nodig is en watter befondsing oorweeg moet word om farmaseutiese sorg van gehalte in die land te verseker. Werkgewers sal ook uitvind watter gapings daar in internskapopleidingsprogramme is. Dit sal hulle help om die nodige verbeteringstrategieë te implementeer.

Die hersiening omvat drie fasette: die struktuur van die farmasie-internskap (insluitende die regsaspekte), die onderrig van farmasie-interns in die apteke tydens hulle internskap, en die assessering van interns.

Die projek word deur ’n diensvlakooreenkoms befonds, met die SAAR wat die grootste gedeelte van die bedryfskoste dek.

Projek is die gevolg van ’n lang verbintenis

Prof Lubbe sê die verbintenis van die NWU, en veral MUSA, met die SAAR het baie jare gelede begin. “Ons was as konsultante of as deel van spanne navorsers by talle projekte betrokke, wat ook ander universiteite ingesluit het.”

Sy glo dat dit hulle goeie samewerking is wat daartoe gelei het dat die SAAR die NWU genader het om die farmasie-internskapprogram alleen te hersien.

“Wat hierdie projek selfs meer opwindend maak, is dat die personeel van die SAAR wat direk met die internskapprogram werk en die NWU-personeel wat by die hersiening betrokke is, deur die projek ook hulle doktorsgrade kan voltooi. Ons het tans drie PhD-studente wat aktief by die projek betrokke is. Dit sluit ’n personeellid van die SAAR, ’n voltydse student en ’n NWU-personeellid in.”

Die projek is tans in die implementeringsfase wat, saam met onderhoude met fokusgroepe en die verspreiding van vraelyste aan belanghebbers, die drie fasette van die projek dek.

Prof Lubbe sê hulle doel is om die hersiening teen die einde van 2024 te voltooi.

...

 Prof Martie Lubbe

Submitted on Mon, 04/03/2023 - 10:48