NWU help met bewusmaking oor die belangrikheid van slange

Ons as mense word geleer dat ons alle lewende dinge moet respekteer, maar dit kan ’n sensitiewe saak wees as dit by slange kom.

Hierdie reptiele word dikwels as gevaarlike en bose wesens uitgebeeld en dit beïnvloed mense se houding teenoor hulle, wat veroorsaak dat mense nog banger vir hulle is omdat hulle nie baie kennis oor slange het nie.

Slange is ’n belangrike deel van biodiversiteit, en met meer as 3 000 spesies in Suid-Afrika, speel hulle ’n belangrike rol om die ekologiese balans te handhaaf. Hulle help om die knaagdierbevolking in toom te hou wat beduidende skade aan oeste kan veroorsaak en siektes versprei, en hulle gif word ook in mediese navorsing gebruik om nuwe middels en behandelings vir verskeie siektes te ontwikkel.

Die omgewingsprogram vir slange – die Snake Neighbourhood Awareness Knowledge and Education-program (SNAKE) – saam met die JB Marks munisipaliteit en die Potchefstroomse slangverwyderingsgroep, het op Saterdag 18 Maart ’n bewusmakingsgeleentheid by die Promosa Gemeenskapsaal gehou.

Glenville Fransman, senior administratiewe assistent by die Skool vir Biologiese Wetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê al hoe meer mense in gebiede soos Promosa, Ikageng en Mohadin kla dat hulle slange gesien het en dat slange by hulle huise inkom. Dit is waarom hy gedink het dat dit goed sal wees om mense in te lig oor watter slange giftig is en watter nie, asook oor hoe belangrik slange is.

Hy sê dat hy besef het dat die Skool vir Biologiese Wetenskappe met personeellede en studente toegerus is wat die nodige vaardighede en kundigheid het om mense oor hierdie onderwerp in te lig. Die skool het toe die JB Marks munisipaliteit om hulp genader en ’n geslaagde geleentheid is aangebied.

Die onderwerpe wat hanteer is, het ’n demonstrasie ingesluit oor hoe om slange te hanteer, mense is oor die belangrikheid van slange ingelig, hoe om hulle te identifiseer en watter prosedure om te volg wanneer hulle ’n slang teëkom, en die belangrikste van alles, wie om te skakel.

“Wanneer iemand deur ’n slang gepik word, is dit belangrik om te weet watter soort slang dit is sodat die regte behandeling toegepas kan word. As ’n mens weet wat die verskil tussen giftige en niegiftige slange is, kan dit mense help om die reptiele beter te verstaan,” sê Glenville.

Tydens die bewusmakingsgeleentheid is die vier tipes giftige slange wat in die Potchefstroom-omgewing aangetref word, ook geïdentifiseer, naamlik die pofadder, die Kaapse kobra, die rinkhals en die boomslang.

Glenville sê die geleentheid was ’n groot sukses met amper 100 mense wat dit bygewoon het.

“’n Bewustheid vir slange is noodsaaklik vir veiligheid, omgewingsbewaring, mediese noodgevalle en opvoeding. Om iets oor slange te leer, kan fassinerend wees en kan mense help om die diversiteit van lewe op ons planeet te waardeer. Dit kan ook help om algemene mites en wanopvattings oor slange die nek in te slaan, wat sal help om die vrees en stigma wat met hulle geassosieer word, te verminder,” voeg hy by.

 

Collin Lengwasa, Cormac Price, Ronnie Afrika, prof Che Weldon, Glenville Fransman en Francois Coetzee tydens die bewusmakingsgeleentheid.

Piet Goosen van die Potchefstroomse slangverwyderingsgroep demonstreer hoe slange hanteer moet word.

Die geleentheid was ’n groot sukses met amper 100 mense wat dit bygewoon het.

Submitted on Fri, 04/28/2023 - 08:53