NWU gee aan meestersgraadstudente in Maatskaplike Werk ’n blik op die realiteit van die strafhof

’n Hof kan ’n skrikwekkende plek wees – veral vir ’n kind. Jong slagoffers van huishoudelike geweld en seksuele mishandeling moenie net hulle eie trauma hanteer nie, maar moet ook die hofverrigtinge, kruisondervraging en die lewer van getuienis trotseer in ’n omgewing wat hulle as vyandig en skrikaanjaend ervaar.

Dit is waar maatskaplike werkers op die gebied van forensiese praktyk ’n verskil maak. Hulle verskaf nie net emosionele ondersteuning en leiding om ’n kind vir die eise van die hofverrigtinge voor te berei nie, maar dien ook as kundige getuies om ’n sterk saak teen oortreders te bou.

Volgens prof Cornelia Wessels, medeprofessor en navorser in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, is die Noordwes-Universiteit (NWU) die enigste plaaslike universiteit wat ’n meestersgraad in Maatskaplike Werk in Forensiese Praktyk aanbied.

Ses studente in hierdie program het die geleentheid gehad om as deel van die praktiese komponent van hulle finale eksamen in November aan ’n skynverhoor in die Nagraadse Maatskaplike Werk-simulasielaboratorium deel te neem. Dit het aan hulle hulle eerste ervaring gegee van wat slagoffers en hulle maatskaplike werkers in die strafhofstelsel te wagte kan wees.

Die skynverhoor is ’n jaarlikse gebeurtenis. Prof Wessels sê sedert die program in 2006 begin het, het amper ’n honderd studente daarby baat gevind. “Studente kry wel blootstelling aan die kinderhof in siviele sake, soos om toesig by skeisake vas te stel, maar dit is hulle eerste ervaring met die strafhof, wat gevalle soos huishoudelike geweld en seksuele mishandeling hanteer. In een module vir die praktiese eksamen moet studente in Maatskaplike Werk ’n slagoffer evalueer en ’n verslag vir die hof skryf. Dit word deur ’n skynverhoor gevolg, waar studente as kundige getuies ondervra word. Dit tel vir hulle finale eksamen.”

Endriëtte Barnard, bestuurder van die NWU se Regskliniek, was die voorsittende beampte vir die hofverrigtinge. “Dit was ’n werklike voorbeeld van wat studente in die meestergraadprogram vir Forensiese Praktyk in die professionele wêreld kan verwag. Vir sommige studente was dit ’n openbaring,” sê prof Wessels.

Hoe het die studente te ervaar? “Die terugvoer was baie positief. Hoewel ons alles in ons vermoë doen om hulle vir die werksomgewing voor te berei, weet hulle dikwels nie wat om te verwag nie. Die studente sê dat hulle dankbaar is vir die geleentheid om dit eerstehands in ’n veilige en beheerde omgewing soos die simulasielaboratorium te ervaar.”

Prof Alida Herbst, direkteur van die Skool vir Psigososiale Gesondheid op die Potchefstroomkampus, en prof Retha Bloem, direkteur van die navorsingsarea Gemeenskaps- Psigososiale Navorsing (COMPRES), het vir prof Wessels en die vakgroep Maatskaplike Werk met die beplanning en befondsing bygestaan om die simulasielaboratorium en skynhof op te stel.

Prof Herbst sê dat die NWU trots is op die inisiatief en veral op die universiteit se nagraadse programme in maatskaplike werk. “Ons bied twee gestruktureerde meestersgraadprogramme in die Skool vir Psigososiale Gesondheid en COMPRES aan – die meestersgraad in Kinderbeskerming en die meestersgraad in Maatskaplike Werk in Forensiese Praktyk. Ons glo dat hierdie programme studente vir die spesifieke eise van die maatskaplikewerkberoep toerus.”

...

Prof Cornelia Wessels, medeprofessor in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, sê dat hulle probeer het om die hofomgewing na te boots. Die skynhof in die Nagraadse Maatskaplike Werk-simulasielaboratorium is ’n werklike voorbeeld van die hofomgewing .

...

Studente en personeel ná die praktiese eksamen in die skynhof. Van links is: Endriëtte Barnard, prof Alida Herbst, Shanaaz Walters, Driana Zandberg, Jo-Ané Cloete, Marlize Ramsden, Rethabile Tau, Zukiswa Filana, en prof Elmari Deacon. Prof Cornelia Wessels sit by die lessenaar.

Submitted on Thu, 12/01/2022 - 16:02