NWU gasheer vir Curro Esports Indaba 2024

Curro is die toonaangewende onafhanklikeskoolnetwerk wat ’n reeks opsies bied vir ouers wat na ’n onafhanklike skool soek, en die Noordwes-Universiteit (NWU) het die voorreg gehad om die tweede Curro eSports Indaba aan te bied, wat van Donderdag 29 Februarie tot Saterdag 3 Maart 2024 gehou is.

Die konferensie is deur Curro eSports in vennootskap met Acer for Education georganiseer, en die NWU het die gebruik van die geriewe op die Potchefstroomkampus geborg, terwyl die African Cyber Gaming League (ACGL) die hoofdiensverskaffer vir die praktiese werkswinkels was.

Die simposium is deur verteenwoordigers van verskillende Curro-skole regoor die land bygewoon, asook deur lede van Curro se hoofbestuur. Dit was nie bloot daarop gemik om e-sportafrigters te bemagtig nie, maar ook om hulle met die kennis en vaardighede toe te rus om e-sport in hulle onderskeie skole vorentoe te neem.

Die e-sportafrigters het ’n driedagprogram gevolg en is in verskillende groepe ingedeel wat op verskillende belangstellings in e-sport gebaseer is. Hulle het ook verskillende wegbreeksessies bygewoon. Hierdie sessies is gefasiliteer deur verskeie hoofsprekers wat mentorskap verskaf het om te fokus op die verskillende aspekte van e-sport soos LAN, Plenary en Minecraft, en hoe om dit af te rig.

Glenn du Toit, die land se bestuurder van Acer Africa, het die onderwysers aangemoedig om die kennis wat hulle tydens die sessies opgedoen het, te gebruik om die verborge potensiaal van hulle leerders te ontgin en hulle voor te berei om in ’n wêreld van geaugmenteerde intelligensie te oorleef.

Mnr Russell Pitchers van Hoërskool Monument in Krugersdorp sê dit was ’n wonderlike ervaring.

“As iemand wat uit ’n gaming-agtergrond kom, het ek dit werklik geniet om onderwysers van ander skole te ontmoet wat ook gaming geniet. Ons het almal met een doel voor oë saamgekom, en dit was om ons leerders deur middel van gaming te verbeter. Die Curro-span, saam met Acer en ACGL, werk wonderlik saam en ek glo dat indien hulle voortgaan om e-sport op hierdie manier te bevorder, ons spoedig e-sport in elke skool kan hê,” sê hy.

“Hierdie konferensie was werklik ongelooflik,” sê Julia Robinson, wat ’n professionele e-sportspeler is. Sy het bygevoeg: “Dit was vir my die lekkerste om te sien dat al die onderwysers hulle gamer-identiteit op hulle rûe dra en Valorant teen mekaar speel. Dit is belangrik om te verstaan wat dit beteken om jou kommunikasie doeltreffend aan te wend en die strategie te verstaan, en wat dit behels om ’n e-sport-gamer te wees.”

Magdeleen de Kock, projekleier vir Curro Esports, het bygevoeg: “Dit was wonderlik om al die opwinding op die afrigters se gesigte te sien terwyl hulle die nuwe vaardighede aanleer. Ons wil ook graag al die personeel van die universiteit bedank wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het. Die ondersteuning vir ons program, van die aanvanklike vergaderings tot probleemoplossing op die dag, word werklik waardeer.”

Alles in ag genome, die Curro Esports Indaba was 'n noemenswaardige keerpunt vir die esports-gemeenskap en het die geweldige groeipotensiaal van hierdie vinnig ontwikkelende bedryf getoon.

...

...

...

Submitted on Fri, 03/15/2024 - 09:17