NWU gaan voort met sy indrukwekkende vordering onder die topuniversiteite wêreldwyd

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens sy plek op die ranglys verbeter en skitter onder die topuniversiteite wêreldwyd. Dit is duidelik uit die onlangse graderings deur beide die Center for World University Rankings (CWUR) en die Times Higher Education (THE) se Young University Rankings.

Die jongste Global 2000-lys, wat deur die CWUR gepubliseer word, plaas die NWU onder die top-4,2% van die wêreld se beste universiteite. Hierdie uitmuntende prestasie is op 13 Mei op die cwur.org-webwerf gepubliseer. Die NWU is volgens die akademiese prestasie van 20 966 universiteite wêreldwyd op die ranglys geplaas.

Dit is nie die eerste keer dat die universiteit op hierdie ranglys uitgeblink het nie, aangesien hy steeds sy posisie op hierdie lys verbeter. In die 2024-uitgawe van die Global 2000-lys het die NWU getoon dat sy deurlopende strewe na uitnemendheid vrugte afwerp, en op sy indrukwekkende vertoning van verlede jaar verbeter – die NWU is toe onder die top-4,4% geplaas – asook op dié van 2022, toe die NWU in die top-4,5% geplaas is.

Die universiteit het ook op verlede jaar se oorkoepelende telling van 71,1 tot 71,3 verbeter. Die NWU word nou 869ste in die wêreld geplaas. Dit beteken dat die NWU met 18 plekke op die ranglys opgeskuif het, aangesien dit verlede jaar in die 887ste plek geplaas is. Dit is in die 825ste plek vir navorsing en 1 685ste vir indiensneembaarheid geplaas. Die NWU het sy tiende plek in Afrika behou en is steeds sewende (dieselfde as verlede jaar) in Suid-Afrika.

Volgens dr Nadim Mahassen, president van die CWUR, publiseer hulle die grootste akademiese ranglys van wêreldwye universiteite. Die ranglys is anders as die ander deurdat hulle objektiewe aanwysers vir hulle vier pilare – opvoeding; indiensneembaarheid; fakulteit; en navorsing – gebruik. Hulle maak nie op opnames en datavoorleggings van universiteite staat nie.

Die CWUR plaas ook gelyke klem op studente- en fakulteitsverwante aanwysers en het vir hierdie jaar se ranglys 62 miljoen uitkomsgebaseerde datapunte gebruik.

Die CWUR is ’n leidende konsultasie-organisasie wat beleidsadvies, strategiese insigte en konsultasiedienste aan regerings en universiteite verskaf om opvoedkundige en navorsingsuitkomste te verbeter.

Skitter ook onder jong universiteite

Dit is nie net die CWUR wat die NWU se uitmuntendheid erken nie. Die jongste Times Higher Education (THE) Young University Rankings plaas die NWU 183ste uit 673 universiteite op hulle lys van die wêreld se beste universiteite wat 50 jaar oud of jonger is. Slegs universiteite wat in hierdie bepaalde kategorie val, word vir hierdie ranglys in ag geneem. Die NWU vier hierdie jaar sy 20ste bestaansjaar en kwalifiseer dus vir hierdie bepaalde rnglys. Die THE publiseer ook ander ranglyste, wat die World University Rankings insluit.

Die THE Young University Rankings gebruik 13 gekalibreerde prestasie-aanwysers om die omvattendste en mees gebalanseerde vergelykings te verskaf. Hierdie ranglys sluit instellings in wat tussen 1973 en vandag gestig is.

The THE-ranglys groepeer die prestasie-aanwysers in vyf kategorieë: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsing en invloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag). Volg die skakels vir meer inligting oor die 2024 CWUR-ranglys (http://cwur.org/2024.php), en die THE Young University Rankings (https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2024/young-university-rankings), of besoek https://www.nwu.ac.za/rankings vir meer inligting oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste.

Submitted on Wed, 05/15/2024 - 11:10