NWU gaan Junior Vrouehokkie Wêreldbeker aanbied

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots om aan te kondig dat hulle die gasheer vir die 2021 FIH Junior Vrouehokkie Wêreldbeker gaan wees.

Dié byeenkoms, wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging en die sportkode se wêreldbeheerliggaam, die Fédération Internationale de Hockey (FIH), aangebied word, sal vanaf 5 tot 16 Desember by die NWU se Astroturfbaan in Potchefstroom plaasvind.

Al die nodige Covid-19-protokolle sal streng nagekom word en die byeenkoms sal binne ʼn bioborrel gehou word. Die 16 deelnemende spanne sal ook geskiedenis maak, want dit is die eerste keer dat ʼn hokkiewêreldbeker in Afrika gespeel sal word.

“Die Noordwes-Universiteit sien daarna uit om al die deelnemende spanne in ons lieflike stad Potchefstroom te verwelkom. Ons is opgewonde om die FIH Junior Vrouehokkie Wêreldbeker aan te bied. Dit is nie net ʼn eerste vir Suid-Afrika nie, maar vir Afrika ook,” sê Sheldon Rostron, voorsitter van die plaaslike beplanningskomitee en Bestuurder: Sport by die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom.

“Ons doelwit is om ons vermoë te toon om wêreldklasbyeenkomste aan te bied, maar ook om ons vriendelikheid, kultuur en pragtige land bekend te stel.

“Dit is ʼn eer en ʼn voorreg om jou land te kan verteenwoordig, en op hierdie ouderdom (o. 21) is daar niks beter as om aan ʼn omgewing blootgestel te word wat jou aanmoedig om ʼn professionele atleet te word nie. Ons wil hierdie geleentheid ʼn onvergeetlike byeenkoms maak, een wat die vlam sal aansteek wat vir die res van hul loopbane sal brand.” 

Volg hierdie skakel vir meer nuus en onderhoude oor dié hokkie-skouspel

........ 

 Sheldon Rostron

 

Submitted on Wed, 08/11/2021 - 10:30