NWU en UNESCO-leerstoel vier Oop Onderwys-week met prestigelesing en webinaar

Kunsmatige intelligensie (KI) is ’n belangrike krag agter die ontwikkeling van die Vierde Industriële Revolusie. Die impak gaan nie net beduidend wees op nuwe tegnologiese vorderings nie, maar ook oor die manier waarop onderwys en navorsing in die toekoms gaan plaasvind.

Dit is waarom die UNESCO-leerstoel vir Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne van die Navorsingseenheid vir Selfgerigte Leer by die Noordwes-Universiteit (NWU) hierdie jaar se Oop Onderwys-week vier deur ’n prestigelesing oor die uitbreiding van onderwys deur KI te hou.

Die viering van die Oop Onderwys-week vind van 1 tot 5 Maart plaas en sluit ’n webinaar oor oop lisensiëring en outeursreg in oop onderwys vir NWU-personeel in.

KI neem oop onderwys die toekoms in

Prof Jako Olivier beklee die leerstoel vir Multimodale Leer en Oop Onderwys-hulpbronne aan die NWU. Hy sê dat die prestigelesing wat op 2 Maart plaasvind nie misgeloop moet word nie.

“Ons is bevoorreg om vir dr Mitja Jermol, ’n bekende kundige op die gebied van KI, te hê om die lesing te lewer. Dit beloof om ’n insiggewende en leersame geleentheid te wees.”

Die titel van dr Jermol se lesing is Opening up education with AI. Dit sal via die Zoom-platform plaasvind. Almal wat belangstel moet voor 1 Maart by https://forms.gle/NKjJKCKAUTVbfTpe9 registreer.

Dr Jermol beklee die UNESCO-leerstoel vir Oop Tegnologie vir Oop Opvoedkundige Hulpbronne en Oop Leer. Hy is die hoof van die sentrum vir kennisoordrag by die Jozef Stefan-instituut, die nasionale navorsingsinstituut in Slowenië.

Hy is ook die hoofprojekbeampte by die internasionale navorsingsentrum vir KI in Slowenië. Sy verantwoordelikhede sluit in dat hy aan die hoof van projekte staan wat wêreldwye uitdagings hanteer wat met volhoubare ontwikkelingsdoelwitte deur KI verband hou. Dit sluit KI in slimstede, sirkulêre ekonomie, die omgewing, intelligente vervoer, slimenergieroosters, fabrieke van die toekoms, kubersekuriteit, tegnologie-ondersteunde leer, kennisbestuur en besigheidsintelligensie in.

Dr Jermol het ’n lang prestasierekord vir die opstel en bestuur van groot projekte soos videolectures.NET, Science Atlas, ’n analitiese raamwerk vir die stryd teen korrupsie en nog meer.

Webinaar fokus op oop lisensiëring en outeursreg

Die webinaar word in samewerking met die NWU se Sentrum vir Onderrig en Leer gehou en die titel is Introduction to open licensing and copyright for open pedagogy. Die doel van die webinaar is om vir dosente te wys hoe om ooplisensie-inhoud te gebruik en hulle te bemagtig om ook hulle eie inhoud te publiseer en te deel.

Die webinaar sal op 3 Maart plaasvind. Personeel wat dit wil bywoon, moet by https://ctl-nwu.libcal.com/event/7535688 registreer.

Oop Onderwys-week bevorder toeganklikheid

Die Oop Onderwys-week is ’n jaarlikse geleentheid wat oop onderwys en oop opvoedkundige hulpbronne wêreldwyd bevorder. Op ’n tydstip waar die koste van leerhulpbronne baie hoog is, behoort hoër onderwys dit te oorweeg om oop opvoedkundige hulpbronne te aanvaar wat kostedoeltreffend is en ook toelaat vir maniere om inhoud vir Suid-Afrikaanse studente aan te pas en relevant te maak.

Die gebeurtenis is die ideale geleentheid om aktief te deel en te leer oor die jongste prestasies en ontwikkelings in oop onderwys deur die wêreld.

Vir meer inligting oor Oop Onderwys-week, besoek https://www.openeducationweek.org/page/what-is-open-education-week.

Submitted on Tue, 02/16/2021 - 15:01