NWU en Tswelelopele Empowerment-stigting span saam vir opvoedkundige opheffing

Die Skool vir Filosofie in die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het met die Tswelelopele Empowerment-stigting saamgespan in ’n lofwaardige poging om maatskaplike kwessies die hoof te bied en die lewenstandaard in die Barolong Boo Mariba-gemeenskappe op te hef.  

Hierdie samewerking fokus daarop om deur inisiatiewe vir opvoedkundige bemagtiging met sewe plaaslike gemeenskappe te skakel, met ’n spesifieke klem op ondersteuning aan leerders op hulle reis na hoër onderwys. 

Op 2 Augustus 2024 het albei organisasies ’n gesamentlike geleentheid by verskeie skole gehou en so hulle verbintenis tot hierdie gemeenskappe beklemtoon. Die NWU en Tswelelopele hou sedert 2021 jaarliks loopbaanuitstallings en nooi verskillende belanghebbers uit om noodsaaklike inligting met graad 11- en graad 12-leerders van die Mothibinyane Hoërskool, Mothusi Marumuloa Sekondêre Skool, Kagiso Barolong Sekondêre Skool en Ntshidi Hoërskool te deel. ’n Informele moniterings- en evalueringsproses het egter getoon dat minder as 30 leerders van hierdie skole tussen 2021 en 2024 by die NWU geregistreer het. 

Verskeie faktore dra tot hierdie lae getal inskrywings by, insluitende ’n gebrek aan toelating tot baccalaureusgraadprogramme, laat aansoeke, misgeloopte geleenthede om die NWU se opedae by te woon, en die kapasiteitbeperkings van die NWU. In die lig van hierdie uitdagings het die organisasies besluit om hulle strategie te hersien. In plaas daarvan om hierdie jaar die gewone loopbaanuitstalling te hou, het hulle besluit om die skole direk te besoek, en onder die veldtog #WeAreHereToHelp praktiese hulp met die aansoekproses aan te bied.  

Die inisiatief het graad 12-leerders en diegene wat reeds gematrikuleer het in die sewe dorpies as teikengroep. “Om in ’n afgeleë, minderbevoorregte gemeenskap te woon, is vir hierdie leerders partykeer ’n uitdaging, en om enige vorm van opvoedkundige bemagtiging te kry, beteken vir hulle baie. Daarom help ons waar ons kan,” sê Amantle Mothelesi, een van die belangrike koördineerders van die projek. 

Ten spyte van die inisiatief bly die uitdagings groot. Sommige leerders het nie die nodige identiteitsdokumente wat vir universiteitsaansoeke vereis word nie – ’n probleem wat uit ’n gebrek aan ouerlike ondersteuning spruit. In reaksie daarop ondersoek die Tswelelopele Empowerment-stigting maniere om hierdie studente te help. 

Hoewel hulle erken dat nie alle leerders tot by die universiteit sal vorder nie, bly die belanghebbers hoopvol dat hierdie nuwe strategie positiewe resultate sal oplewer en die broodnodige ondersteuning sal verskaf vir diegene wat verder wil studeer. 

 

1
2
3

Inisiatief wil die uitdagings oorkom om toegang tot hoër onderwys moontlik te maak.

Submitted on Wed, 10/09/2024 - 10:48