NWU en ROF bemagtig Afrikaanssprekende onderwysers

Dit is 10 jaar sedert die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Rapport Onderwysfonds (ROF) begin saamwerk het om Afrikaanssprekende onderwysstudente by die universiteit met ’n ROF-beurslening te help.

’n Afvaardiging van die ROF, wat bestaan het uit Inge Kühne, voorsitter, Phil-Marie Roberts van die ROF en Werner Human van die ROF se Raad van Trustees, het op 11 Julie met prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier, vergader.   Die doel van die vergadering was om die pad vorentoe te bespreek, aangesien die hernuwing van die ooreenkoms vinnig naderkom en die huidige driejaartermyn amper verby is.

Die gesprekke het ingesluit dat die beurslening vir 2025 moontlik verhoog sal word, asook dat daar gekyk sal word na die suksesse en die vorige finansiële hulp wat aan studente gegee is.

Die ROF-inisiatief vier twee dekades as ’n belangrike rolspeler in die opleiding van Afrikaanssprekende onderwysers regoor die land. Suksesvolle Afrikaanssprekende onderwysstudente wat by die ROF aansoek doen, het deur die ROF die geleentheid om deel te word van die groep goed opgeleide onderwysers.

Ses-en-dertig NWU-onderwysstudente het die afgelope drie jaar voordeel uit die lening getrek. Die ROF en die NWU het so ver terug as 2014 ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan ingevolge waarvan die NWU namens ’n NWU-student ’n donasie aan die ROF maak, en dan ondersteun die ROF, benewens die een student, nog ’n NWU-student finansieel.  Buiten vir dit ondersteun die ROF meer studente van die NWU uit eie en ander fondse van skenkers.

Vanaf 2020 tot 2022 het ’n totaal van 205 studente ondersteuning ontvang – party vir een jaar en ander vir meer as een jaar. Onderwysstudente van die Grondslagfase tot meestersgraadstudente word uit die fonds ondersteun.

Deur hierdie samewerkingsooreenkomste is ʼn totaal van R12 miljoen in die NWU se onderwysstudente belê.

Inge sê die NWU se onderwysstudente is akademies sterk en het die dryfkrag om hulle studies te voltooi. “Die ROF kan dus met vertroue hierdie studente by ons donateurs aanbeveel en aan hulle toewys. NWU-onderwysstudente kom van regoor al die provinsies in die land. Hulle is nie net in een provinsie gekonsentreer nie. Studente kan dus toegewys word aan ander donateurs van ander provinsies wat iemand van hulle eie area volgens hulle eie keuse wil ondersteun.”

Sy sê die ROF se 20-jaar-mylpaal sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van donateurs soos die NWU nie.

Die twee partye gaan in die toekoms moontlike geleenthede en die lesse wat met hierdie onderneming geleer is, ondersoek en aanwend om die ontwikkeling van Sesotho, isiZulu en Setswana as onderrigtale te bevorder.

Meer oor die ROF

’n ROF-beurslening is ’n lening waarvan ’n gedeelte jaarliks op grond van akademiese prestasie in ’n beurs omskep word. Dit vestig die beginsel van “harde werk word beloon” by jongmense.

Volgens Inge ontvang die ROF jaarliks meer as 750 aansoeke, waarvan ongeveer 300 studente ondersteun kan word.

Vir meer inligting, besoek die ROF se webwerf by https://rof.org.za/.

ROF

ROF-verteenwoordigers besoek die kantoor van die NWU se visekanselier, prof Bismark Tyobeka. Werner Human van die ROF se Raad van Trustees, Phil-Marie Roberts van die ROF, prof Bismark Tyobeka, Inge Kühne, Nkosinathi Tom, die NWU se direkteur vir Strategiese Vennootskappe en Spesiale Projekte, en Philip Malan, bestuurder in die kantoor van die visekanselier, het die vergadering bygewoon.

Submitted on Mon, 07/15/2024 - 14:43