NWU en DARD onderteken ’n memorandum van verstandhouding

Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (DARD), wat die Landboukollege Potchefstroom en die Taung Landboukollege verteenwoordig, het op 27 Januarie 2023 ’n memorandum van verstandhouding (MvV) op die NWU se Potchefstroomkampus onderteken.

Die doel van die MvV was om ’n raamwerk te bied vir samewerking tussen die partye in die uitoefening van hulle onderskeie statutêre take en oor ’n verskeidenheid onderwerpe wat wedersyds voordelig is. Die partye het ooreengekom om saam te werk oor aangeleenthede wat strek van navorsing en kapasiteitsbou, tot ekonomiese ontwikkeling en enige ander gebiede wat die partye van tyd tot tyd kan identifiseer en op ooreenkom, insluitend die uitruiling van dosente en studente.

Die onderskeie hoofde – prof Bismark Tyobeka as die hoof en visekanselier van die NWU, en mnr Thupi Mokhatla as die hoof van landbou en landelike ontwikkeling vir die DARD van Noordwes – het die ondertekeningsverrigtinge gelei. ’n Afvaardiging van direkteure op die onderskeie gebiede het beide partye ook verteenwoordig.

“Die begin van die jaar is ’n kritieke tydperk in die lewens van ons jongmense wanneer hulle hulle voorberei om ’n nuwe hoofstuk in hulle lewens te begin, en wat met toegang tot universiteite verband hou. Die ongelukkige aspek is egter dat die meeste individue nie aan die kriteria vir universiteitstoelating voldoen nie,” het prof Tyobeka gesê.

Prof Tyobeka het beklemtoon dat met die ontleding van die klassifikasie van keuses vir tersiêre onderwys in die land, die relevansie van kolleges en tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskolleges (TVET-kolleges), veral landboukolleges, een faktor is wat soms misgekyk word. Hy het voortgegaan deur te sê dat dit ons plig is om te verseker dat hierdie alternatiewe tersiêre-onderwysopsies vir die jeug lewensvatbaar bly en nie as ’n laaste uitweg beskou word om hulle opvoeding voort te sit nie.

Prof Tyobeka het beklemtoon dat die ondertekening van hierdie MvV op die opsie van postsekondêre onderwys vir jongmense sal fokus, aangesien landbou-instellings die sleutel tot vaardighede vir selfvoorsiening is, met die klem op voedselsekerheid.

“Sonder funksionele en toereikende landboukolleges regoor Suid-Afrika en in ons provinsie, loop ons die risiko dat ons bestaansboere geïgnoreer word,” het hy gewaarsku.

“In my intreerede op 26 Augustus 2022 het ek beklemtoon dat een van my visies vir ons universiteit is om goeie samewerking met die provinsiale regering te vorm, en ek is verheug om te sê dat daardie samewerking tot stand gekom het.”

Prof Tyobeka het gesê ’n belangrike aspek van hierdie ooreenkoms is dat die onmiddellike behoeftes van die NWU en sy studente – veral diegene op die Potchefstroomkampus – aandag sal ontvang. Kapasiteitsbou binne die DARD, in dié sin dat daar vorendag gekom moet word met dringende navorsingsamewerking om kennis te bevorder, sal ook ingesluit word.

Mnr Mokhatla het gesê dat die DARD bly is om hierdie vennootskap met die NWU te sluit, en genoem dat daar talle gebiede van samewerking is waar die NWU broodnodige hulp kan verleen. Hy het gesê dat klimaatsverandering natuurrampe laat toeneem. Om die impak daarvan so spoedig moontlik met die nodige hulpbronne te verminder, sal vir die departement tot voordeel wees, aangesien die gemeenskap altyd ondersteuning en oplossings by die departement soek. Hy het die behoefte beklemtoon aan stelseltegnologieë was as waarskuwingstelsels kan dien, en boere oor naderende rampe kan waarsku sodat hulle voorkomend kan optree.

“Ons wil graag ons boere bemagtig om proaktief te wees sodat hulle in ’n posisie is om aktiewe maatreëls aan te wend wat hulle in staat sal stel om die impak van natuurrampe te vermy of te sorg dat dit ’n kleiner impak op hulle het,” het hy gesê.

Nog ’n knelpunt wat deur mnr Mokhatla genoem is, is die vertraging in groei in Noordwes se boerderybedryf en die versuim daarvan om ’n bydrae tot die land se BBP te lewer ten spyte van die departement se ondersteuning deur die jare. “Die universiteit kan ons dalk help deur ons strategie te hersien en ons te help kyk of ons op die regte pad is, veral in die lig daarvan dat die provinsie grootliks landelik is en intervensies kan vereis wat spesifiek op hulle van toepassing is.”

Die behoefte aan ’n bestuursontwikkelingsprogram vir die departement se bestuurders was ook ’n noodsaaklike behoefte. Dit sal ’n impak hê op hulle vermoë om hulle verantwoordelikhede meer doeltreffend uit te voer.

Mnr Mokhatla het prof Tyobeka se kwelling oor voedselsekerheid herhaal en genoem dat Noordwes negende op die ranglys van al die provinsies is. “Ons provinsie vaar nie goed in hierdie verband nie, hoewel ons nou deur verskeie ingrepe tot die agtste posisie in die land gevorder het. Daar moet egter steeds baie ten opsigte hiervan gedoen word, en ons sien uit daarna dat hierdie samewerking die nodige veranderinge sal te weeg bring,” het hy gesê.

...

 Van links is dr Karabo Mabe, waarnemende hoofdirekteur vir landbou-ondersteuningsdienste by DARD, mnr Thupi Mokhatla, hoof van landbou en landelike ontwikkeling vir die DARD van Noordwes, prof Bismark Tyobeka, NWU hoof en visekanselier, en prof Robert Balfour, adjunk-visekanselier vir onderrig en leer by die NWU.

Submitted on Wed, 02/15/2023 - 11:55