NWU ekonoom – die problematiese tendens van ekonokrasie

Sien jy sake wat op die land se ekonomie betrekking het as irrelevant vir die publiek? Voel jy die ekonomie moet eerder slegs in die hande van opgeleide ekonome gelaat word? Indien dit jou beskryf, ervaar jy die negatiewe impak van ekonokrasie.

Ekonokrasie sal op die uiteinde tot die val van die Suid-Afrikaanse ekonomie lei. Só meen Michelle Groenewald, ʼn kenner in ekonomie by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe in Vanderbijlpark.

Michelle het haar gedagtes oor die nasionale begrotingsrede en die Staatsrede (SONA), asook die sosio-ekonomiese en politiese impak van hierdie nasionale aanwysers, met die gehoor by die onlangse NWU Alumni Sakeontbyt gedeel. 

Ekonokrasie: ʼn probleemtendens

Volgens Michelle kan die term ekonokrasie gebruik word om ʼn samelewing waarin politieke en ekonomiese beleid hoofsaaklik op ekonomiese groei en vordering geskoei is, beskryf. In kort: ʼn tegnokratiese proses wat die man op straat van kwessies wat die ekonomie raak, uitsluit.

“Dit is belangrik dat alle Suid-Afrikaners besef dat die begroting nie net ʼn lys getalle is wat op ekonome en sake sektore gemik is nie,” sê Michelle. Sy voeg by dat die begroting ʼn een-dimensionele instrument sonder enige impak sal word indien die idee van ekonokrasie verdra word. Haar opinie is dat die begroting – net soos Suid-Afrika – vele verhale het om te vertel en dat alle landsburgers in die ekonomie moet deelneem en streng met die kwaliteit en inhoud van die inligting daarin vervat, moet omgaan.

“Ons moet ook besef dat daar vele verhale in die begroting te lees is, veral inaggenome dat hierdie ʼn verkiesingsjaar is. Ek wil egter vir Jan Publiek gerusstel: daar is geen rede om deur die begrotingsrede of die implikasies daarvan bedreig te voel nie,” verduidelik Michelle.

Verhale van die 2019 nasionale begroting

Michelle het op vier verhale wat sy vooraf geïdentifiseer het, gefokus om die verantwoordelikheid wat die begroting op die skouers van die samelewing plaas te illustreer.

  • Verhaal 1: Die verhouding tussen onderrig en indiensneming

Michelle meen dat die huidige retoriek in die land – dat daar genoeg studente in die tersiêre onderrigsisteem is om die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika aan te spreek – onwaar is.

“Dit verstom my dat 52,4% van jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 24 werkloos is! Dit is niks minder as ʼn nasionale krisis nie.  Dit frustreer my dat ons as ʼn land nie ʼn nasionale obsessie met werkskepping het nie,” sê Michelle. Sy voeg by dat daar soveel verduidelikings rondom die begroting is, soos byvoorbeeld hoe Suid-Afrika sal kan bekostig wat dit moet bekostig. Die realiteit is egter dat die land se belastingsbasis dun versprei is en dat die huidige werksmag die basiese vaardighede wat nodig is om in diens geneem te word, kort.

In haar opinie moet daar ʼn nypende nasionale gesprek oor werkloosheid heers en alle Suid-Afrikaners moet aan die diskoers, kritiek, beleidsvoorstelle en oplossings, deelneem.

Sy stem saam dat entrepreneurskap ʼn lewensvatbare oplossing tot werkloosheid bied, maar sy waarsku dat dit nie as die enigste oplossing voorgehou moet word nie.

 

  • Verhaal 2: Skuld

“In die jaar wat voorlê, verwag ons ʼn inkomste van R1,58 miljard en uitgawes van R1,83 triljoen. Dit beteken dat ons R249 miljard sal uitgee wat ons nie verwag om te verdien nie. Anders gestel, leen ons sowat R1,2 miljard per dag, indien ons aanneem dat daar nie op naweke geld geleen word nie.” Die aanhaling van die minister van finansies, Tito Mboweni, vertel volgens Michelle ʼn ander kommerwekkende verhaal oor die Suid-Afrikaanse ekonomie. Soos in die meeste verhale is daar egter ʼn kompeterende storielyn. Indien die openbare sektor sy lone inperk – wat tans een van die hoogste uitgawe beloop, beteken dit inderwaarheid dat die regering nie net die salarisse van administratiewe staatsamptenare sal sny nie, maar ook die van onderwysers, dokters en prokureurs.

  • Verhaal 3: Eskom

“Ek is van die opinie dat sekere kwessies rondom Eskom in ʼn meer optimistiese lig gesien kan word,” sê Michelle en verduidelik dat gesprekke op nasionale vlak gefokus is daarop om innoverende oplossings – soos ontbondeling in teenstelling met net nog ʼn finansiële reddingsboei. Die beslissende faktor wat Eskom aanbetref sal egter deur die suksesvolle implementering van sulke intervensies bepaal word.

  • Verhaal 4: Die gees van Suid-Afrika

“Aan die einde van die dag, sal ons onsself moet vra of ons kans sien daarvoor om ʼn toekoms wat vir ons almal sal werk te bou. Ek glo opreg in die Suid-Afrikaanse gees en daarom doen ek ʼn beroep op al my medelandsburgers om teen apatie te waak,” sê Michelle. Sy glo dit is die verantwoordelikheid en voorreg van elke Suid-Afrikaner om die jeug te bemagtig en ʼn kultuur van innovasie te koester.

“Suid-Afrika is ʼn groot en wye land met goeie mense en ʼn oorvloed van positiewe dinge om op te fokus. Ons is dit aan onsself verskuldig om deel te wees van die oplossings wat ons na ʼn blink toekoms sal lei. Die tyd het aangebreek om oor hierdie verhale wat oor ons land vertel word, te praat en om uitdagings trompop te takel. Ons is dit aan onsself verskuldig om te vra: hoe durf hierdie uitdagings dit waag om in ons pad te staan?”

* Michelle is ʼn trotse alumna van die NWU waar sy ʼn BCom, BComHons en ʼn MCom verwerf het. In 2017 is die Chevening beurs aan haar toegeken en het sy haar MSc in politieke ekonomie van ontwikkeling aan die Universiteit van London se Skool vir Oosterse en Afrikastudies gestudeer. Haar navorsingsbelange lê by die politieke ekonomie van ontwikkeling, die kritiek van ekonomiese metodologie en die proses van dekolonisering wat betref reformasie van die kurrikulum. 

Michelle Groenewald.

 

Submitted on Thu, 03/28/2019 - 15:22