NWU Eagles weer terug op koers

Hierdie oorwinning het vir hulle alles beteken. Die NWU Eagles het nie net die vorige kampioene en gereelde finaliste UP-Tuks tydens hulle Varsitybeker-ontmoeting in Potchefstroom op Maandag 7 Maart met 17–8 gewen nie, hulle 2022-veldtog is ook weer terug op koers.  

’n Rooikaart het Tuks glad nie goed gedoen nie, maar die Eagles het daaruit munt geslaan en geweier dat die besoekers daarna vir hulle ore aansit. Die voorspelers het uitgeblink. Drie hoera’s vir hierdie groot manne.

Agtsteman André Fouché was – weer eens, en waarskynlik nie vir die laaste keer nie – ’n openbaring. Hy is as FNB se Player that Rocks aangewys. Hy het ook een van die Eagles se drie drieë gedruk, met Gustav Erlank en Naiden Jaarts wat die ander twee bygedra het.  Nivan Petersen het met ’n doelskop geslaag.

Die Eagles het nou twee van hulle vier wedstryde gewen en is in die sewende plek op die algehele punteleer.

Afrigter André Pretorius se manne reis volgende na Bloemfontein om die Shimlas, wat tot dusver hierdie seisoen wonderlike rugby gespeel het, aan te pak. Shimlas, wat boaan die punteleer is, gaan wil wraak neem nadat hulle met ’n vernederende 53–31 teen Wits verloor het. Dit was nogal ’n groot verrassing, maar dit wys jou ook wat die vlak van die kompetisie in hierdie toernooi is.

....

Die NWU Arende se Nivan Petersen gaan pale toe terwyl Tuks se Bernard van der Linde probeer om hom te stop. Foto: Barco Greeff

Bertie Jacobs

Submitted on Wed, 03/09/2022 - 09:58