NWU Eagles sit vir Tuks ore aan

Alles loop weer klopdisselboom. Ná ’n effense insinking teen Maties ’n week gelede, is die NWU Eagles weer op die voorvoet nadat hulle UP Tuks tydens die Varsitybekertoernooi in Pretoria met 26–22 kafgedraf het. Die seëvierende besoekers het vier drieë gedruk– twee deur Tino Swanepoel en een elk deur Keano Windvogel en Theuns Pretorius. Zinedine Robinson het met twee doelskoppe geslaag.

Die Eagles het wel ’n aantal struikelblokke gehad om te oorkom. Benewens dat hulle met ’n rooi kaart gestraf is, moes hulle ook golf ná golf van Tuks se aanvalle afweer wat deur hulle passievolle tuisskare aangevuur is.

Heelagter Tino Swanepoel het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Sy algehele spel was iets uit die boeke, maar dit was sy merkwaardige, betowerende solo-drie wat nog lank onthou sal word. Hy het geswenk, gekoes, gehardloop en toe geduik asof dit sy laaste taak op aarde is. Sjoe.

Die oorwinning het gemaak dat die NWU Eagles hulle plek boaan die Varsitybeker-punteleer verstewig het, en met vier rondtes oor is hulle waarskynlik verseker dat hulle die uitspeelrondtes sal haal. Met 17 punte is hulle is die leiers van die groep, danksy drie oorwinnings uit vier wedstryde. Net onder hulle is SUT met 15 punte. SUT is ook toevallig die volgende span teen wie die Eagles op Maandag 20 Maart in Potchefstroom te staan kom.

SUT het hierdie jaar bewys dat hulle met verrassings vorendag kan kom en dat hulle gedugte teenstanders is. In die verlede kon die Eagles verwag om ’n goeie oorwinning te behaal, maar dit is 2023 en SUT het getoon dat hulle dié jaar ’n span is om mee rekening te hou.

Die afskop is om 19:00 op die Fanie du Toit Sportterrein.

Submitted on Thu, 03/16/2023 - 09:47