NWU: Die volhoubare appel val nie ver van TREES se boom af nie

Glansryke advertensies vertoon sondeurdrenkte strande, of jy sien sneeubedekte bergtoppe met uitsigte wat so ver strek as wat die horison dit toelaat. ’n Glimlaggende lugwaardin skink ’n koppie koffie; ’n kosstalletjie langs ’n besige straat verkoop eksotiese eetgoed. Toerisme as ’n ervaring is ’n produk – ’n produk wat verkoop, maar een wat dikwels misverstaan word. Nie net is toerisme ’n kragtige bydraer tot ekonomiese groei nie, maar dit help ook om ons kwesbare ekostelsels in stand te hou. Die navorsingseenheid Toerismenavorsing in Ekonomie, die Omgewing en die Samelewing (TREES) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) vind deurlopend nuwe maniere om te verseker dat die yslike potensiaal van hierdie sektor nie ondergewaardeer of onderbenut word nie.  Die waarde van die sektor vir Suid-Afrika, asook vir Suider-Afrika, kan nie oorbeklemtoon word nie.  

Volgens prof Elmarie Slabbert, direkteur van TREES, is daar tydens die Covid-19-pandemie weer besef hoe waardevol hierdie sektor is: “Volgens die Wêreld Reis- en Toerismeraad het die toerismesektor in 2018 8,7% tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) bygedra, maar dit het in 2020 tot 3,7% gedaal.  Hierdie sektor het in 2018 1,5 miljoen mense in diens gehad, wat in 2020 tot 1,06 miljoen afgeneem het. Die sektor self het met 73% gekrimp en verskeie besighede het toegemaak, wat tot werksverliese en verlies aan inkomste gelei het. Die beduidende bydrae daarvan blyk duidelik uit die syfers, en so ook mense se afhanklikheid van die sektor. Dit is voorts belangrik om te weet dat 80% van toerisme-ondernemings klein besighede is wat nie ’n terugslag soos Covid kan absorbeer nie, en dus was hierdie bedryf een van dié wat die swaarste deur hierdie onvoorsiene gebeurtenis getref is. Ons navorsing lewer ’n bydrae tot die bou van ’n meer veerkragtige sektor wat in die toekoms anders sal optree. In die geval van Suid-Afrika is daar nou ’n beter begrip van die belangrikheid van die binnelandse mark en die rol daarvan as die ruggraat van hierdie sektor. Hoewel die internasionale toeriste ’n beduidende bydrae tot hierdie sektor lewer, sal dit belangrik wees om plaaslike reise in die volgende paar jaar aan te moedig.”

TREES se fokus is gerig op die bevordering van die vakkundige stand van toerisme as ’n navorsingsgebied en op hulp aan die toerismesektor om meer veerkragtig en volhoubaar te word. Sommige projekte fokus op die reisgedrag van toeriste deur meganismes te ontwikkel wat gedrag en keuses kan voorspel. Ander projekte fokus op navorsing wat met spesifieke tipes toerismeprodukte soos wildtuine, feeste en gebeurtenisse, besprekingsplatforms en so meer verband hou.   In hierdie tipes studies bepaal navorsers die ekonomiese bydrae van die produk tot die sektor, die markprofiele van toeriste en besoekers wat hierdie toerismeprodukte gebruik en die uitwerking hiervan op die gemeenskappe waar hulle aangebied en gehuisves word.

Dit vorm deel van die NWU se verbintenis om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik, waarvan SDG 8 (Goeie werk en ekonomiese groei), SDG 15 (Lewe op land) en SDG 17 (Vennootskappe vir die doelwitte) veral relevant is. Hierdie drie doelwitte fokus, in volgorde, op die bevordering van volhoubare ekonomiese groei, volle en produktiewe indiensneming en goeie werk vir almal, die beskerming en restourasie van ons ekostelsels, en die versterking van wêreldwye vennootskappe vir volhoubare ontwikkeling.

“Toerisme is een van die belangrikste sektore om werksgeleenthede te skep, die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter en ons natuurlike hulpbronne vir toekomstige geslagte te bewaar,” verduidelik prof Slabbert.

Hierdie verbintenis om volhoubaarheid te bevorder, strek verder as Suid-Afrika se grense.

“Navorsingsuitkomste verkry meer diepte wanneer dit saam met vennote buite die entiteit en die land aangepak word. Om met verskillende mense regoor die wêreld te werk, lei tot kreatiewe oplossings vir navorsingsprobleme, dit lei tot kapasiteitsbou van navorsers, en dit plaas die navorsing wat deur TREES gedoen word op ’n internasionale platform. Ons vorm deel van die internasionale bekwaamheidsnetwerk in toerisme (International Competence Network in Tourism) waar vennote een keer per jaar bymekaarkom om navorsing en moontlike projekte te bespreek. Ons skakel ook by geselekteerde konferensies met topnavorsers en doen navorsingsbesoeke by internasionale universiteite om samewerking en interaksie aan te moedig. Die sukses van hierdie samewerkings blyk duidelik uit die groei van die navorsingseenheid.”

Deur die drie pilare vir volhoubaarheid van die ekonomie, die omgewing en maatskaplike faktore op verskillende gebiede van toerismenavorsing toe te pas vanuit ’n vraag- sowel as ’n aanbodperspektief, help TREES se navorsing om Suid-Afrika in staat te stel om as ’n toerismebestemming te groei, die land se handelsmerk as ’n toerismebestemming te versterk en die BBP te verhoog.  By die NWU val die volhoubare appel van nie ver van TREES se boom af nie.

Submitted on Wed, 07/19/2023 - 15:58