NWU in die top-4,7% van wêrelduniversiteite

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sit sy uitstekende prestasie op wêreldwye ranglyste voort. In die jongste ranglysgradering het die Center for World University Rankings (CWUR) die NWU in hulle 2021/2022-uitgawe van die Global 2000-lys in die top-4,7% van universiteite geplaas.

Hierdie merkwaardige prestasie is op 26 April op die cwur.org-webwerf gepubliseer. Die NWU is volgens akademiese prestasie onder 19 788 universiteite wêreldwyd op die ranglys geplaas.

Die NWU het met ’n algehele telling van 70,7 uitgeblink. Ons is 924ste in die wêreld, negende in Afrika en sewende in Suid-Afrika geplaas. Ten opsigte van navorsingsprestasie het die CWUR die NWU 879ste onder die wêreld se deelnemende universiteite geplaas.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dat die NWU gereeld op wêreldwye ranglyste uitblink. Die jongste CWUR-ranglys volg op ’n top-100-plasing – en oorkoepelende sesde plek in Suid-Afrika – op die ranglys van die universiteite in ontluikende ekonomieë (Emerging Economies University Ranking) van Times Higher Education (THE), wat in Maart hierdie jaar aangekondig is. Die Times Higher Education Ranking het die NWU in die algehele 97ste plek geplaas uit 606 universiteite wat aan hulle gradering deelgeneem het.

“Hoewel die ranglys nie ’n doelwit is wat die NWU nastreef nie, is dit ’n erkenning van die uitstekende werk wat al die lede van die NWU-familie doen. Die NWU se gees en deursettingsvermoë het weer eens getoon dat met harde werk en toewyding ons die storms in onstuimige toestande kan trotseer. Covid-19 het die belangrikheid van die deel van kennis en internasionale samewerking beklemtoon. Hierdie internasionale erkenning dien as bemagtiger vir die versterking van vennootskappe en internasionale samewerking.”

Hy sê dat die bestuur van die NWU geweldig trots is op al sy personeel, studente en ander rolspelers wat hulle deel doen om die NWU internasionaal te laat uitblink.

Grootste akademiese ranglys van wêrelduniversiteite

Die CWUR publiseer die grootste akademiese ranglys van universiteite in die wêreld. Dit is ’n konsultasie-organisasie wat advies oor beleide, strategiese insigte en konsultasiedienste aan regerings en universiteite verskaf met die doel om opvoedkundige en navorsingsuitkomste te verbeter.

Die CWUR se ranglys is uniek, aangesien die organisasie ewe veel klem op die leeromgewing as op navorsing plaas.

Hulle gebruik ook objektiewe aanwysers vir al vier die sleutelpilare wat die basis is van die metodologie van die ranglys, en maak nie staat op opnames en datavoorleggings nie. Die vier sleutelpilare is die gehalte van die onderrig, indiensneming van alumni, die gehalte van akademici en navorsingsprestasie.

Sewe aanwysers bepaal rangordes

Die CWUR gebruik sewe objektiewe en kragtige aanwysers wat in vier areas gegroepeer is om die wêreld se universiteite te gradeer.

Die eerste van hierdie aan aanwysers behels die gehalte van opvoeding, wat gemeet word aan die getal van ’n universiteit se alumni wat, relatief tot die grootte van die universiteit (25%), belangrike akademiese onderskeidings behaal het.

Indiensneming van alumni is nog ’n aanwyser. Dit word gemeet aan die getal van die universiteit se alumni wat belangrike hoofbestuursposte by die wêreld se grootste maatskappye beklee relatief tot die grootte van die universiteit (25%).

Derdens kyk die CWUR na die gehalte van die akademici. Dit word gemeet aan die getal lede van die fakulteit wat belangrike akademiese onderskeidings behaal het (10%).

Die vierde aanwyser is navorsingsprestasie, wat in vier areas gemeet word: navorsingsuitset (10%), publikasies van ’n hoë gehalte (10%), invloed ten opsigte van die getal navorsingsartikels in uiters invloedryke vaktydskrifte (10%), en aanhalings (10%).<0}

Vir meer inligting oor die jongste graderings besoek http://cwur.org/2021-22.php.

Submitted on Mon, 04/26/2021 - 13:21