NWU in die top-100 op die ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë (Emerging Economies University Ranking) vir 2022

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het weer eens ’n top-100-plasing op ’n internasionale ranglys gekry. Dit is in die 96ste plek – en vyfde plek in Suid-Afrika – op die ranglys van die universiteite in ontluikende ekonomieë (Emerging Economies University Ranking) van Times Higher Education (THE) geplaas.

Dit is ’n verbetering op die NWU se algehele 97ste plek en sesde plek in Suid-Afrika op dieselfde ranglys verlede jaar. Daar is ’n toename van 15% in universiteite wat aan die jongste gradering deelgeneem het, met 698 universiteite van 50 lande en streke wat vir die graderings meegeding het, vergeleke met verlede jaar se 606 universiteite.

Die ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë sluit slegs instellings in van lande of streke wat deur die Financial Times Stock Exchange-groep (FTSE) van die Londense aandelebeurs as “gevorderd ontluikend”, “sekondêr ontluikend” of “grens” geklassifiseer word.

Volgens ’n verklaring van Phil Baty, hoofkennisbeampte van THE, toon die 2022-ranglys dat universiteite van ontluikende ekonomieë – ná ’n uiters uitdagende 18 maande vir talle van hulle – die krag en kwaliteit het om by ’n nuwe hibriede manier van onderrig en leer aan te pas.  

THE publiseer ook jaarliks die World University Rankings. Hoewel THE dieselfde 13 noukeurig-gekalibreerde prestasieaanwysers gebruik in hulle ranglys vir universiteite in ontluikende ekonomieë as wat hulle in hulle Global Rankings gebruik, verskil die gewigstoekenning om die ontwikkelingsprioriteite van universiteite in ontluikende ekonomieë te weerspieël.

Hierdie prestasie-aanwysers word in vyf areas gegroepeer: onderrig (die leeromgewing); navorsing (volume, inkomste en reputasie); aanhalings (navorsingsinvloed); internasionale profiel (personeel, studente en navorsing); en bedryfsinkomste (kennisoordrag).

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, het al die personeel en studente bedank vir hulle voortgesette toewyding om die universiteit bó sy eweknieë te laat uitstyg.

Hy het die NWU se toewyding herbevestig om homself te as ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika te posisioneer.

Vir meer inligting, besoek: https://www.timeshighereducation.com/world-university-rankings/2022/emerging-economies-university-rankings#!/page/0/length/25/sort_by/rank/sort_order/asc/cols/stats

Submitted on Wed, 10/20/2021 - 11:44