NWU die heel bestes by internasionale parasitologiekongres

Parasiete word dalk deur baie mense as verpestelike organismes beskou, maar om hulle en hulle impak op ekologiese stelsels te verstaan, is noodsaaklik in natuurstudie. Die navorsers en studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) blink as kundiges op hierdie gebied uit.

Die NWU het tydens die onlangse Internasionale Kongres vir Parasiete van die Natuurlewe (International Congress of Parasites of Wildlife) nie net met al die medaljes vir nagraadse studente weggestap nie, maar ook die mees gesogte toekenning vir ’n navorser ontvang.

Die kongres is in September deur die Parasitologiese Vereniging van Suider-Afrika (PARSA) by die Nasionale Krugerwildtuin aangebied. “Dit is die eerste keer in die geskiedenis van PARSA dat ’n enkele universiteit al vier die beskikbare medaljes ontvang het wat jaarliks aan nagraadse studente en navorsers toegeken word,” sê prof Nico Smit van die Skool vir Biologiese Wetenskappe, wat die hoogste eer van PARSA ontvang het. 

Hy het die Elsdon-Dew-medalje vir sy betekenisvolle navorsingsbydraes tot die bevordering van parasitologie in Afrika ontvang. Slegs 24 navorsers het al in die 50 jaar van die bestaan van PARSA hierdie gesogte medalje ontvang.  

“As jong navorser het ek my mentors en rolmodelle bewonder wanneer hulle toekennings soos hierdie ontvang. Dit is wonderlik om in hulle voetstappe te volg,” sê prof Nico. Hy verduidelik dat die toekenning gewoonlik vir ’n leeftyd se bydraes gegee word, wanneer die meeste ontvangers daarvan die einde van hulle loopbane nader. Dit maak die prestasie net nog groter, aangesien hy steeds op die kruin van sy loopbaan is.

NWU se nagraadse studente is die room van die oes

Dr Marliese Truter en Linda van der Spuy het onderskeidelik die Senior Neitz-medalje vir die beste PhD-tesis en die Junior Neitz-medalje vir die beste MSc-verhandeling ontvang.

Dr Anja Erasmus het die Angela Davis Russell-medalje vir die beste publikasie in parasitologie deur ’n nagraadse student ontvang.

Marliese sê die ontvangs van die medalje is wonderlik en onverwags. “Net om vir ’n toekenning van hierdie aard benoem te word, is wonderlik genoeg, maar om die toekenning te ontvang, voel soos ’n bevestiging dat ek op die regte pad is om ’n bydrae tot die gebied van parasitologie in Suid-Afrika te lewer.”

Haar navorsing sentreer om parasietgemeenskappe van Suider-Afrikaanse visspesies. Haar PhD-studie fokus op die skerptandbaber van Afrika, wat die mees uiteenlopende parasietgemeenskap in Afrika bevat.

Linda sê om hierdie medalje vir die beste meestersgraadverhandeling te ontvang, stem haar baie nederig. “Daar is ’n ondenkbare vreugde wat oor jou kom as jy besef dat jou gereelde en geleidelike deursettingsvermoë deur huidige en toekomstige kollegas raakgesien en waardeer word.”

Haar navorsing behels die taksonomiese navorsing van sestodes (lintwurms) wat haaie en Batoidea (rôe) aan die kus van Suid-Afrika infesteer. Sy het reeds sewe spesies van Acanthobothrium en een spesie van Phoreiobothrium wat nuut is aan die wetenskap ontdek en beskryf.

 

Volgens Anja is die bekragtiging van haar nuutgevonde belangstelling in parasitologie, ná sy aanvanklik navorsing in ekotoksikologie gedoen het, een groot vreugde.

Sy het die Angela Davies Russell-toekenning vir haar publikasie  “Metazoan parasite diversity of the endemic South African intertidal klipfish, Clinus superciliosus: Factors influencing parasite community composition” ontvang.

Haar navorsing identifiseer faktore wat die samestelling van die metasoönparasietgemeenskap van die klipvis binne sy Suid-Afrikaanse verspreiding beïnvloed.

Prof Nico sluit af dat die NWU ’n gereelde ontvanger van medaljes in parasitologie is. “Hierdie toekennings toon die gehalte en leierskap van ons nagraadse studente, studieleiers en personeel.”

Vir meer inligting oor PARSA, besoek: PARSA (Parasitological Society of Southern Africa).

...

Benewens die wonderlike prestasies deur die NWU by die Internasionale Kongres vir Parasiete van die Natuurlewe, is dr Courtney Cook en dr Kerry Malherbe, personeellede van die NWU, onderskeidelik as die nuwe visevoorsitter en voorsitter van die Parasitologiese Vereniging van Suider-Afrika (PARSA) verkies.  Hulle sal vir die volgende drie jaar in hierdie hoedanigheid dien.

...

Die NWU is trots op hulle ― dr Anja Erasmus, prof Nico Smith, Linda van der Spuy en dr Marliese Truter het al die medaljes vir nagraadse studente tydens die internasionale kongres huis toe geneem. Prof Nico het die hoogste eer ontvang wat die Parasitologiese Vereniging van Suider-Afrika aan ’n navorser kan toeken.  

Submitted on Wed, 10/26/2022 - 09:51