NWU CoLab help om gemeenskapsradio-omroepers te bemagtig

Die CoLab van die Skool vir Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die nasionale elektroniese media-instituut van Suid-Afrika (National Electronic Media Institute of South Africa, NEMISA) het in 2019 hande gevat en ’n 12 maande lange leerlingskapprogram begin om aan gemeenskapsradio-omroepers ’n NKR-vlak 5-kwalifikasie te bied.

Die twee entiteite het ’n behoefte in die gemeenskapsradiostasies geïdentifiseer, naamlik om te help om omroepers met belangrike harde en sagte vaardighede in radio en radio-aanbieding toe te rus sodat hulle kan ontwikkel en van gemeenskapsradiostasies na kommersiële radiostasies kan beweeg.

Die program bied talle modules aan wat deur die Media, Information and Communication Technologies Sector Education and Training Authority geakkrediteer is, insluitend hoe om verskillende tipes sagteware op dié gebied te gebruik, hoe om buite-uitsendings te doen, nuus te lees, en hoe om vir radio te skryf, om maar net ’n paar te noem.

Die projekkoördineer by die NWU CoLab, Malcolm Sehoole, sê dat gemeenskapsradio-omroepers dit moeilik vind om die kommersiële radioruimte te betree, aangesien die meeste van hulle slegs matrieksertifikate en geen ander kwalifikasies het nie. Dit is dus belangrik om hulle te help om hierdie kloof te oorbrug.

“Daar is ’n groot gaping tussen gemeenskapsradiostasies en kommersiële radiostasies. Die toetreevereistes vir gemeenskapsradiostasies is gewoonlik net ’n matrieksertifikaat, en kommersiële radiostasies vereis ’n universiteitskwalifikasie. Daarom voel ons dat ons die kloof tussen die twee moet oorbrug deur hierdie kwalifikasie te verskaf,” sê hy.

Die NWU CoLab werf omroepers wat deur die bestuur van hulle gemeenskapstasies genomineer is om aan die program deel te neem.

“Die verhouding met en ondersteuning van die plaaslike stasies is beduidend. Toe ons hulle met die idee genader het, was hulle baie ontvanklik daarvoor. Van hulle skakel ons selfs gereeld om te vra of ons enige hulp nodig het,” voeg Malcolm by.

Een van die omroepers wat tans deel van die leerlingskapprogram is, Elizain McCarthy, sê dat dit ’n groot eer is om deel van die program te wees, en dat sy baie daaruit geleer het. Sy is baie bly dat sy nuwe vriende gemaak het met wie sy belangstellings deel.

“Ek het sedert ek by die program aangesluit het so veel geleer wat ek nie van radio geweet het nie. Ek het nie net belangrike vaardighede aangeleer nie, maar het ook ongelooflike mense ontmoet wat in dieselfde veld as ek is. Ek is baie dankbaar vir my stasiebestuur dat hulle my genomineer het om aan hierdie wonderlike geleentheid deel te neem,” sê sy.

Sy voeg ook by dat sy teen die einde van hierdie program wil sê dat sy alles wat sy moontlik kon vir haar radioloopbaan gedoen het.

“Ons bestee die meeste tyd in ons lewens aan ons loopbane, en teen die einde van hierdie program weet ek dat ek sal sê dat ek hierdie geleentheid aangegryp het – van om te leer hoe om onderhoude te voer en hoe om te redigeer tot om te bepaal wat in teksskrywing moet ingaan, en die verskillende rolle wat by radio betrokke is,” voeg sy by.

Die NWU CoLab fokus ook op ander gemeenskapsontwikkelingsprojekte, maar radioprogramme is die een waarop hulle die heel trotsste is. Die entiteit wil voortgaan om gemeenskapsradio-omroepers te verskaf wat al die belangrike vaardighede in radioproduksie sal hê.

......

Klas van 2023 se deelnemers aan die Radio-leerlingskap

.....

Van links, sittende: Ogomoditse Tlhotlhomisho en Nkosinathi Thebe. Van links, staande: Lerato Moloi en Bennet Motaung

Submitted on Thu, 06/29/2023 - 09:08