NWU blink weer uit in die QS World University Rankings ― nou tiende in Afrika

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ’n groot verbetering getoon in die jongste Quacquarelli Symonds (QS) World University Rankings waar hulle posisie op die ranglys verbeter het – plaaslik, in Afrika en wêreldwyd.

Die NWU se prestasie op hierdie ranglys was vir die afgelope vyf jaar konsekwent en die jongste resultate bevestig die universiteit se posisie onder die room van die oes van plaaslike en internasionale universiteite.

Volgens die QS is die NWU nou onder die topsewe Suid-Afrikaanse universiteite op die ranglys vir die top- wêreldwye universiteite in 2024, wat op 27 Junie gepubliseer is. Die universiteit was verlede jaar in die agtste posisie op dié ranglys.

Wêreldwyd het die NWU beduidende verbetering getoon en na die 801 tot 850ste ranglysposisie beweeg – ’n verbetering van verlede jaar se plasing van tussen 1 001 en 1 200.

Dit is egter nie net plaaslik en internasionaal wat die universiteit hoër op die ranglys geskuif het nie. Die NWU word nou tiende in Afrika gegradeer – vyf posisies hoër as verlede jaar se 15de plek.

Hierdie gradering deur die Londen-gebaseerde QS was die 20ste uitgawe en sluit 1 500 instellings regoor 101 liggings in die wêreld in. Dit gebruik opnameresponse en harde data om die finale telling vir elke universiteit te bereken.  QS is die enigste ranglys van sy soort om indiensneembaarheid en volhoubaarheid te beklemtoon.

Hierdie jaar het QS hulle heel grootste metodologiese vordering geïmplementeer deur drie nuwe metings by te voeg, naamlik volhoubaarheid, indiensnemingsuitkomste en internasionale navorsingsnetwerk.  Hulle aanwysers sluit in:

  1. akademiese reputasie (30%)
  2. werkgewerreputasie (15%)
  3. student-tot-fakulteitsverhouding (10%)
  4. aanhalings per fakulteit (20%)
  5. internasionale fakulteitsverhouding (5%)
  6. internasionale studenteverhouding (5%)
  7. internasionale navorsingsnetwerk (5%)
  8. volhoubaarheid (5%), en
  9. indiensnemingsuitkomste (5%).

Vir meer inligting, besoek: North-West University: Rankings, Fees & Courses Details | Top Universities, en vir meer oor die NWU se prestasie op die verskillende ranglyste, besoek: Rangordening | NWU | Noordwes-Universiteit.

 

.....

Prof Linda du Plessis (links), adjunk-visekanselier vir Beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, ontvang die QS-toekenning van Jessica Turner, hoof- uitvoerende beampte van QS, tydens die seremonie in Dubai, waar sy ook ’n werkswinkel bygewoon het wat deur Quacquarelli Symonds aangebied is.

Submitted on Thu, 06/29/2023 - 10:18