NWU bied toonaangewende fisikakonferensie aan

 Die konferensie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika (SAIP) speel al jare lank ’n sentrale rol om die Suid-Afrikaanse fisikagemeenskap byeen te bring, en ’n plek te wees waar nuwe bevindings gedeel, navorsingsamewerkings gekweek en studente geïnspireer kan word. 

Hierdie jaar was die Noordwes-Universiteit (NWU) die gasheer van die 65ste jaarlikse vergadering van die SAIP, wat vir die heel eerste keer in ’n aanlyn formaat plaasgevind het. Die SAIP-konferensie sou verlede jaar op die gewone wyse hier by die NWU plaasgevind het.  Alles was voorberei, en die plaaslike organisasiekomitee het daarna uitgesien om afgevaardigdes in Potchefstroom te verwelkom. Die het egter geblyk dat die wêreldwye Covid-19-pandemie baie ernstiger is as wat aanvanklik gemeen is, en die hele wêreld, insluitende die wetenskaplike gemeenskap, is in ’n ongeëwenaarde onsekerheid gedompel. Sedertdien het almal by die nuwe normaal van aanlyn vergaderings, lesings en konferensies aangepas. Dit is waarom daar besluit is om in 2021 met ’n virtuele SAIP-konferensie voort te gaan.

Dit was geensins ’n maklike taak nie, aangesien die plaaslike organisasiekomitee en die wetenskaplike organisasiekomitee, met NWU se proff Du Toit Strauss en Eugene Engelbrecht aan die hoof en bestaande uit NWU-personeel van die Mahikeng- sowel as die Potchefstroomkampus, die gebaande weë van die standaard SAIP-konferensieformaat moes verlaat en ’n virtuele omgewing bekendstel wat onderhoudend, tegnies haalbaar en inklusief is, en die ernstige potensiële probleme wat beurtkrag en swak internetverbindings in sommige streke kan meebring, in gedagte hou. 

Die konferensie het verskeie hoogtepunte gehad, wat twee virtuele winterskole op die baie uiteenlopende gebiede van astrofisika en masjienleer ingesluit het, asook ’n werkswinkel vir onderwysers wat die konferensie voorafgegaan het. Daar was ook ’n aantal praatjies van hoë gehalte vir alle deelnemers wat van regoor die wêreld gelewer is deur voorste kundiges op hulle onderskeie gebiede, insluitende ’n aanbieding vir alle deelnemers deur die ontvanger van die 2019 SAIP- goue medalje. Laastens is ’n spesiale sessie toegewy aan die gedagtenis van wyle Prof Harm Moraal, wat ’n baanbreker in ruimtewetenskap was en ’n A1-gegradeerde wetenskaplike hier by die NWU, sowel as die vorige voorsitter van die SAIP.

In die geheel gesien was die konferensie ’n groot sukses, met ’n uitstekende opkoms van 400 fisici van regoor Suid-Afrika asook van oorsee.  Die aanlyn formaat het baie goed gewerk en deur die bank stimulerende besprekings moontlik gemaak. Ons NWU-studente het ons ook trots gemaak deur verskeie pryse vir hulle navorsingspraatjies te wen. Bertie Seyfert het die prys gekry vir die beste PhD-studentepraatjie oor astrofisika, terwyl Jakobus Vorster die prys gedeel het vir die beste MSc-studentepraatjie oor astrofisika.  Voorts het Marcel van der Westhuizen en Jabus van den Berg albei pryse gewen vir hulle plakkate in onderskeidelik die Astrofisika- en Ruimtewetenskapafdelings.

Submitted on Thu, 09/02/2021 - 13:25