NWU bied deurslaggewende leierskap oor voeding in Malawi aan

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is vasbeslote om in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte ’n deurslaggewende rol op die Afrika-vasteland te speel.

’n Uitstekende voorbeeld hiervan is die African Nutrition Leadership Programme (ANLP) van die Sentrum van Uitnemendheid in Voeding (CEN) by die NWU, wat reeds 22 jaar lank betekenisvolle bydraes lewer tot die bereiking van geen honger (doelwit 2), goeie gesondheid en welstand (doelwit 3), en gehalte-onderwys (doelwit 4).

Die jongste bydrae deur CEN was van 26 Julie tot 4 Augustus in Malawi, waar hulle leierskapsopleiding as deel van die kapasiteitsontwikeling van voedingsbeamptes vir die beheer van voedselstelsels in Malawi – die CapDev-Malawi-project – gefasiliteer het.  

Vyf personeellede van CEN het ’n werkswinkel van vyf dae lank in leierskapsontwikkeling aangebied. Dit was die eerste van twee werkswinkels wat beplan is, en is vir hoofbeamptes in voeding en MIV (PNHAO’s) uit al 28 distrikte in Malawi aangebied.  Die span het bestaan uit prof Robin Macleod, prof Johann Jerling, mev Zione Kalumikiza, dr Averalda van Graan en me Claudine Jordaan.

“Die reeks werkswinkels word deur die Deutsche Gesellschaft  für Internationale Zusammenarbeit (GIZ) befonds en al 35 sleutelrolspelers in die Malawiese voedingslandskap het daaraan deelgeneem,” sê Johann.

Deelnemers aan die eerste werkswinkel, wat by die Makokola-retreat op die oewer van die Malawimeer gehou is, het hooggeplaaste amptenare van die Nasionale Departement van Voeding, twee werknemers van GIZ  en al die distriksleiers in voeding in Malawi ingesluit.  

Die hoofsekretaris verantwoordelik vir administrasie in die Ministerie van Gesondheid van die Malawiese regering, mnr James Manyetera, het een oggend by die werkswinkel aangesluit en die deelnemers en die fasiliteringspan ontmoet.  Die NWU-span het ook gedurende die week vir besprekings met Martina Kress en Bernice Müller van GIZ vergader.

“Dit was ’n dawerende sukses. Al die deelnemers het die werkswinkel hoog aangeskryf en gesê dat hulle dit hoogs waarskynlik vir hulle eweknieë sou aanbeveel. Deelnemers het ook gesê dat die werkswinkel beduidend bygedra het tot hulle selfvertroue en  vermoë om hulle spanne suksesvol te lei om voedingsaktiwiteite doeltreffender te implementeer,” sê Robin. 

Werkswinkel baan die weg vir positiewe verandering

Die voorlopige ontleding van die werkswinkel se evaluering toon dat deelnemers op grond van hulle ervaring by die werkswinkel verskeie veranderings gaan implementeer, sê sy. Hierdie veranderings sluit in dat stiptelikheid verbeter moet word, kommunikasievaardighede aandag moet ontvang  en spanwerk bevorder word, en dat daaglikse besinning moet plaasvind.  

“Baie van hulle se doel is om hulle spanne te bemagtig en ’n motiverende omgewing te skep, terwyl hulle op emosionele intelligensie en tydsbestuur fokus en ’n positiewe uitkyk behou. Daarbenewens beplan hulle om verhoudings te versterk, duidelike doelwitte te stel, terugvoer te verskaf en te evalueer, en doeltreffende leierskapstyle te aanvaar.”

Robin sê sommige deelnemers het genoem hoe belangrik aanspreeklikheid is, dat emosionele reaktiwiteit verminder moet word en dat leierskap van en ondersteuning vir juniors aangemoedig moet word.

Die tweede werkswinkel sal in September aangebied word, wanneer 10 PHNAO’s en hulle spanne vir ’n opvolgwerkswinkel uitgenooi sal word.  Die doel van hierdie werkswinkel is om die distrikspanne in meer samehangende eenhede te ontwikkel wat ’n doeltreffende verandering in die voedingslandskap van hulle distrikte teweeg kan bring.

NWU-personeellede en hulle Malawiese kollegas wat aan die geslaagde CapDev-Malawi-werkswinkel deelgeneem het.

NWU-personeellede en hulle Malawiese kollegas wat aan die geslaagde CapDev-Malawi-werkswinkel deelgeneem het.  

Submitted on Wed, 09/04/2024 - 11:53