NWU-bibliotekarisse bring kundigheid na inligtinggeletterdheid

Dr Mathew Moyo, hoofdirekteur van die Biblioteek- en Inligtingsdienste op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), en dr Sabelo Chizwina, direkteur van Inligting- en Leerdienste op die Vanderbijlparkkampus, is steeds besig om die NWU se wêreldwye voetspoor uit te brei.    

’n Boek wat poog om kennis en beste praktyke oor te dra, veral in inligtinggeletterdheid en verwante gebiede, naamlik Examining Information Literacy in Academic Libraries (2024), is onlangs gepubliseer. Dit is van groot waarde vir die biblioteek- en inligtingsdienssektor en die biblioteek- en inligtingkundegebied.   

Die boek, wat deur IGI Global gepubliseer is, is deur drr Moyo en Chizwina geredigeer, en dit hanteer die toepaslike kwessies wat met onderrig en leer op die gebied van inligtinggeletterdheid te doen het. Die boek is grootliks beïnvloed deur die Internasionale Konferensie oor Inligtinggeletterdheid (ICIL) – Afrika, wat vir die derde keer aangebied word.

Dit sal beskikbaar wees by hierdie jaar se konferensie, wat vanaf 14 tot 17 Oktober 2024 deur die biblioteek van Alexandra in Egipte aangebied word. 

Die ICIL – Afrika het deur die NWU se Biblioteek- en Inligtingsdienste (LIS) tot stand gekom, en word as ’n susterkonferensie van die Europese Konferensie oor Inligtinggeletterdheid (ECIL) aangebied.

Die boek bestaan uit 14 hoofstukke wat bygedra is deur skrywers van regoor die wêreld, wat in die praktyk en die akademie staan, en dit plaas klem op interdissiplinêre navorsingsuitreike. Van die medewerkers is van universiteite en die burgerlike samelewing, en almal wil kennis en inligting by mekaar uitbring. Dit doen ’n beroep op ’n verskeidenheid lesers, soos studente, praktisyns en beleidskeppers op verskillende vlakke van ’n organisasie en instelling.  

Dr Chizwina beskryf die redigering van die boek as ’n reis vol slaggate, beproewings en uitdagings. In sy resensie van die boek sê dr Chizwina: “Inligtinggeletterdheid is die hoeksteen van die meeste biblioteke by instellings, aangesien daar van biblioteke verwag word om ’n bydrae tot die inligtinggeletterdheidsvaardighede van hulle personeel en studente te lewer. Ons wil graag hê dat hierdie boek ’n hulpbron vir ander biblioteke en individue moet wees, en ons wil ook hê dat dit ’n bydrae tot die NWU se navorsingsuitset moet lewer.”

Die ontwikkeling van inligtinggeletterdheidsvaardighede ná die Covid-19-pandemie, die snypunt van inligtinggeletterdheid en maatskaplike verandering in akademiese biblioteke, en inligtinggeletterdheid in die sfeer van kunsmatige intelligensie is van die konsepte wat in die boek bespreek word.    

Dr Moyo het beklemtoon dat die boek die NWU se sterk verbintenis toon om te verseker dat studente en navorsers almal inligtinggeletterd is. Hy sê die boek bevorder ook die NWU se korporatiewe beeld en dra by tot die universiteit se missie om ’n internasionaal erkende instelling te wees. 

Vir meer inligting oor die boek, besoek: https://www.igi-global.com/book/examining-information-literacy-academic….

Die boek, Examining Information Literacy in Academic Libraries.

Van links is dr Sabelo Chizwina, prof Dorothy Laubscher, ‘n senior lector in die Fakulteit Opvoedkunde, en dr Mathew Moyo. 

Submitted on Fri, 06/21/2024 - 08:51