Ná onlangse verwikkelinge is impakvolle leierskap in voeding nou meer as ooit nodig. Die Verenigde Nasies (VN) se dekade van aksie oor voeding (United Nations (UN) Decade of Action on Nutrition*) kom hierdie jaar tot ’n einde en USAID-befondsing vir Afrika en ander ontwikkelende lande het tot ’n skielike stilstand gekom.
Afrika bring sy kant. “Ons het verantwoordelike en proaktiewe leierskap in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte nodig om ’n nuwe pad vir gesonde voeding in Afrika en die res van die wêreld aan te dui. Die Noordwes-Universiteit (NWU) is al meer as 22 jaar lank besig om ’n betekenisvolle verandering in die sektor teweeg te bring, en ons sal voortgaan om van voor af te lei,” sê dr Christine Taljaard-Krugell, senior lektor in Voeding.
Die universiteit voer hierdie belofte prakties uit om en is van 11 tot 21 Maart die gasheer vir die 23ste jaarlikse African Nutrition Leadership Programme (ANLP).
Hierdie NWU-program fokus onder andere op leierskap, kommunikasie, voorspraak, netwerking en konflikbestuur as ’n reaksie op die geweldige behoefte aan impakvolle leierskap op die gebied van voeding. Voeding is van die uiterste belang om die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 2 te bereik. Die mikpunt van hierdie doelwit is om teen 2030 volhoubare oplossings te vind om honger te beëindig.
Die mikpunt van hierdie VN-doelwit is om te verseker dat almal genoeg voedsel van ’n goeie gehalte het om ’n gesonde lewe te kan lei. Meer as 500 aansoeke vir die program – wat slegs 30 deelnemers op ’n keer kan akkommodeer – het van regoor Afrika ingestroom. Hierdie reaksie toon duidelik dat voedingkundiges besef wat die impak van betekenisvolle leierskapsopleiding op gesondheid en welstand is. Dit getuig ook van die reputasie van die program op die vasteland en die waarde wat dit deur die jare toegevoeg het.
Leierskapsontwikkeling die kern vir die vind van oplossings
Henry Ng’ethe van Kenia, een van verlede jaar se deelnemers, beskryf die impak wat die ANLP-program op hom gehad het. “Ek sal nou ’n beter persoon en leier wees (noudat ek die program voltooi het). Deur die terugvoer weet ek nou wie ek is, en daarvoor is ek vir ewig dankbaar.”
Gaëlle Rabakoarison van Madagaskar beaam Henry se gevoel: “Dit is ’n intensiewe werkswinkel wat maak dat mense hulle grense verskuif en meer oor hulle sterk punte en swakhede verstaan. Dit is ’n verrykende ervaring met ’n groep multisektorale mense en beklemtoon die belangrikheid van kommunikasie en bemagtiging indien ons goeie leiers wil wees.”
Prof Johann Jerling, ’n NWU-kundige in voedingleierskapsontwikkeling en direkteur van die ANLP, lig die oogmerke van die ANLP uit. “Ons bevorder verandering in voeding – dit
staan sentraal in wat ons doen. Die onlangse ANLP-programme in Malawi het ons gehelp om noodsaaklike insig in sake in daardie land te verkry, en ons werk nou saam met al die spanne in al die distrikte wat besig om wanvoeding daar te bestry,” sê hy.
“Namate ons Afrika-netwerk uitbrei, stel al hoe meer organisasies belang in die ontwikkeling van leierskapsvermoëns om te probeer om sterftes as gevolg van wanvoeding doeltreffend te verminder.”
Prof Robin Macleod van die Sentrum vir Uitnemendheid vir Voeding (CEN) aan die NWU, sê sy het die voorreg gehad om verlede jaar in Oktober die 9de kongres oor voeding in Afrika in Cape Coast, Ghana by te woon. “Om soveel ANLP-alumni van die program in verskillende hoedanighede te sien – met aanbieding, organisering en die lei van inisiatiewe en besprekings – was ongelooflik inspirerend. Hulle beliggaam werklik die oproep om te ‘lei waar jy is’, en hulle gesamentlike impak op Afrika se voedingslandskap is duidelik by geleenthede soos hierdie te sien.”
Beplan die pad vorentoe ten spyte van groot uitdagings
Volgens dr Thabo Putu is hierdie jaar se ANLP teen die agtergrond van die onttrekking van USAID en ander befondsingshulp deur die Verenigde State geplaas.
“Hierdie onttrekking het talle gesondheids- en voedselsekerheidsprogramme geweldig geraak. Die meeste Afrika-lande het swaar op USAID gesteun vir gesondheidsorginisiatiewe, voedselhulp en landbouondersteuning.”
Hy sê die ANLP ontvang regdeur Afrika wye erkenning vir die ontwikkeling van deelnemers se leierskapsvermoëns, strategiese denkvaardighede en die vermoë om innoverende oplossings vir uitdagings te skep.
Een so ’n uitdaging is om die afhanklikheid van buitelandse hulp te verminder deur plaaslike oplossings te vind om uitdagings te befonds. Die ANLP stel deelnemers in staat om netwerke vir samewerking daar te stel, nie net in hulle eie lande nie, maar ook internasionaal. Netwerke soos hierdie is ideaal vir die ondersoek van en soeke na leierskapsgeleenthede om probleme soos befondsing op te los.
*Die United Nations Decade of Action on Nutrition het vanaf 2016 tot 2025 geloop. Die vernaamste doel daarvan het ingesluit om teen 2025 mikpunte vir wêreldwye voeding- en dieetverwante nie-aansteeklike siektes te bereik.