Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool het sy derde PITSO-bespreking vir 2023 aangebied, waartydens kundiges gesprek gevoer het oor die president se staatsrede, wat op 9 ’n 2023 gehou is. Daar was 184 teenwoordiges en onderwerpe wat bespreek is, het die huidige energieprobleem, kwessies wat met die huidige energiekrisis te doen het, ekonomiese groei en die werklikheid van misdaad, korrupsie en hernuwing ingesluit.
Die hoofdirekteur van die Besigheidskool, dr Joseph Sekhampu, het al die sprekers verwelkom voordat mnr John Simpson, redakteur van BBC News, sy sieninge oor die huidige situasie in Suid-Afrika gedeel het. Volgens Simpson word Suid-Afrika se vriende tot ’n groot mate deur die land se huidige agteruitgang aan bande gelê, aangesien hulle meen dat Suid-Afrika besig is om onder Rusland en China se invloed in te beweeg. Daar is die vrees dat Suid-Afrika besig is om ’n wentelbaan in te glip waar die Chinese en Russe die land se ekonomiese swakhede sal benut om hulle eie ekonomiese krag te versterk, soos hulle reeds met verskeie lande in Afrika gedoen het.
Op ’n vraag van dr Piet Croucamp aan mnr Simpson waarom daar nog geen teken van ’n burgeroorlog in Suid-Afrika is nie, ten spyte daarvan dat al die voortekens daar is, het laasgenoemde gesê dat dit eintlik merkwaardig is. Hy kan dit slegs aan die gees van die land toeskryf. Wanneer toeriste Suid-Afrika besoek, is die beeld wat hulle vorm, steeds dié van ’n land wat lyk of dit in beheer is, en dat gesonde maatskaplike strukture steeds gehandhaaf word.
Dr Croucamp het ook aan mnr Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, gevra wat van die vorige aand se presidensiële toespraak hom bemoedig het. Mnr Roodt het gesê hoewel die President nie naastenby genoeg tyd daaraan bestee het nie, hy genoem het dat hy hard gaan probeer om titelaktes aan arm mense oor te dra. Dit kan dalk iets kleins wees, maar dit is betekenisvol en positief.
Met betrekking tot die energiekrisis het mnr Roodt gesê dat die aanstelling van nog ’n minister futiel is. Hy meen dat daar liewer aan die vernaamste kwessies aandag gegee moet word, soos dat daar te veel mense vir Eskom werk, dat te veel geld op verkeerde dinge bestee word, en dat daar ’n gebrek aan ’n deeglike finansiële plan is. Hy het ook gesê dat privatisering nie ’n verskuiwing in ideologie of ’n verandering van beleid is nie, maar bloot ’n praktiese skuif wat ’n gevolg is van die ineenstorting van die regering, waarvoor daar geen alternatief is nie.
Dr Croucamp het die rubriekskrywer en analis mnr Khaya Sithole gevra waarom dit lyk asof die president nie in staat is om dinge om te keer nie. Mnr Sithole het erken dat die publiek ná die toespraak met meer vrae as antwoorde gelaat is. Hy sê dat die ANC en die algemene regering bloot nie die kapasiteit het om ondernemings in staatsbesit te bestuur nie. Hy glo dat ’n groot probleem die uitsluiting van bekwame individue is, aangesien dit lyk of slegs mense wat lojaal teenoor of naby aan die ANC is, in leiersposisies aangestel word.
Laastens het dr Oscar van Heerden, ’n vakkundige in politieke ekonomie, verduidelik dat hy nie glo dat die verklaring van ’n nasionale ramptoestand ’n verskil aan die huidige krisis gaan maak nie. Hoewel dit die regering in staat stel om bykomende fondse beskikbaar te stel, rompslomp ten opsigte van die gebruik van alternatiewe energie te systap, en georganiseerde arbeid te beheer waar dit by die benutting van bykomende kapasiteit kom, is dit doeltreffende, etiese leierskap en ’n direkte hantering van die huidige korrupsie wat eintlik nodig is.
Die PITSO het met bemoedigende woorde van mnr John Simpson afgesluit. Hy het as ’n buitestaander tot die land’n paar perspektiewe gedeel. Hy het almal daaraan herinner dat Suid-Afrika steeds ’n goeie regstelsel het, asook ’n ongelooflike graad van entrepreneurskap, ’n lewendige pers, ’n lewendige akademie, en ’n vlak van verwagting van hoe die regering, stede en townships behoort te lyk en hoe dit bestuur behoort te word, wat in min ander Afrikalande gesien word. Die land ken homself, sy identiteit, en waar dit behoort te wees. Dit is alles betekenisvolle eienskappe wat die land se kop bo water hou.
“Moenie moedeloos raak nie; daar is nog baie goeie dinge oor. Dit is net ’n kwessie om die regte politieke stelsel en die regte soort politiek te kry wat sal maak dat hierdie dinge Suid-Afrika uit talle van hierdie probleme sal lig,” sê Simpson.
Dit was oor die algemeen ’n baie insiggewende bespreking met wonderlike insette van ons vier kundiges. Die onderwerpe wat aangeraak is, het daartoe gelei dat dié wat dit bygewoon het, gevra het dat nog ’n rondetafelbespreking oor verwante sake gehou word. Die Besigheidskool sal voortgaan om sulke geleenthede te skep, aangesien ons die verantwoordelikheid het om te beraadslaag oor die moontlikheid dat ’n goedbestuurde Suid-Afrika verkry kan word.
Die volledige opname van die PITSO-bespreking van die NWU Besigheidskool is hier beskikbaar: