NWU Besigheidskool stel ’n nuwe hoofdirekteur aan

’n Nuwe hoofdirekteur het by die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) aangesluit. Dr Joseph Sekhampu, ’n uitvoerende beampte in privaat hoër onderwys, sal op 17 Januarie 2023 die leisels oorneem.

Dr Sekhampu spog met bestuurskundigheid wat insluit dat hy die hoof van handel en bestuur (vanaf Augustus 2022), hoofbedryfsbeampte (2019 tot 2022) en dekaan van die Skool vir Handel (2014 tot 2019) by Milpark Education – ’n Suid-Afrikaanse privaat onderwysinstelling in besigheidsopvoeding – was.

Dr Sekhampu is nie ’n onbekende by die NWU nie en is ’n gegradueerde met ’n MCom (2004) en ’n PhD (2010) in Ekonomie. Hy het van 2009 tot 2013 as senior lektor en navorsingsleier by die universiteit gewerk. In hierdie tyd het hy die Ekonomie-program vir eerstejaars gekoördineer en die PoSER-navorsingsgroep gestig. PoSER behels dat daar navorsing oor armoede en sosio-ekonomiese kwessies gedoen word. Dr Sekhampu se ander kwalifikasies sluit ’n PGDip in Algemene Bestuur (2018) van die GIBS Besigheidskool en ’n diploma as deel van ’n internasionale studieprogram (2004) van Molde Universiteitskollege in Noorweë in. Hy is ook vir ’n MBA by die GIBS Besigheidskool ingeskryf.

As bekroonde navorser het hy toekennings ontvang van Millpark Education vir die beste bydrae tot navorsing (Best Contribution to Research Award) (2014), en toekennings van die NWU vir navorsingsuitnemendheid as topnavorser (Research Excellence as Top Researcher) in die Fakulteit Ekonomiese Wetenskappe (2012), en ook as ’n top-20 presteerder (Top 20 Performer) in 2011.

Dr Sekhampu het verskeie artikels gepubliseer in hoogaangeskrewe vaktydskrifte wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) geakkrediteer is, en aanbiedings by portuurbeoordeelde konferensies gedoen. Hy is ook die medeskrywer van die handboek Introduction to Economics (2021).

Hy beskryf homself as dat hy passievol is oor die lewe en tegnologie gebruik om die gaping tussen mense, prosesse en tegnologie te oorbrug om produktiwiteit te verhoog.

Prof Bismark Tyobeka, hoof en visekanselier van die NWU, het dr Sekhampu verwelkom en sy algehele vertroue uitgespreek in sy vermoë om op die indrukwekkende suksesse van die NWU Besigheidskool te bou en dit selfs tot hoër hoogtes te voer.

...

Dr Joseph Sekhampu

Submitted on Thu, 12/08/2022 - 08:35