NWU Besigheidskool ontvang maksimum termyn vir AABS-akkreditasie

Die Besigheidskool by die Noordwes-Universiteit (NWU) is verheug om aan te kondig dat hulle ’n vyfjaar-akkreditasie by die vereniging vir besigheidskole in Afrika (Association of African Business Schools, AABS) ontvang het. Dit is die maksimum termyn vir akkreditasie wat deur die AABS aangebied word. Wat hierdie prestasie buitengewoon maak, is die feit dat die NWU Besigheidskool een van slegs drie besigheidskole in Suid-Afrika is wat hierdie gesogte toekenning ontvang het.

Dit volg op die onlangse virtuele besoek aan die NWU Besigheidskool deur komiteelede van die AABS. Die doel van hulle besoek was om die skool vir die toekenning van hierdie akkreditasie te evalueer.

Akkreditasie deur die AABS is ’n eer wat uniek aan Afrika is, en word deur Afrika-waardes en -kontekste gerugsteun. Dit is ’n stelsel om die verskaffing van besigheids- en bestuursopvoeding van ’n hoë gehalte in Afrika te onderskryf.

Die kwaliteitnormbepaling van die AABS fokus voorts op die tersaaklikheid en kwaliteit van wat ’n besigheidskool doen (navorsing, onderrig en studente-ervaring) om eersteklas bestuursopvoeding en die gevolglike betekenisvolle impak wat dit op sy omgewing het, te verskaf.

Volgens die voorsitter van die AABS se akkreditasiekomitee, Johnathan Foster-Pedley, is een van die doelwitte van die akkreditasie-oorsig om inisiatiewe wat ’n omgewing van relevansie, impak en volhoubaarheid ondersteun, te erken. “Soos dit in die span se verslag aangedui word, word die NWU Besigheidskool vir die volgende sterk punte, unieke eienskappe en doeltreffende praktyke geloof:

· Verhoudings met die ekostelsels

· Toegang tot opvoeding vir mense wat nie beplan het om by ’n besigheidskool te studeer nie

· ’n Fokus op teenkorrupsie”

Waarom maak dit saak?

Studente en gegradueerdes, besigheidskole en werkgewers erken almal die AABS as ’n topstandaard. Die streng akkreditasiekriteria en evalueringsproses verseker dat slegs die beste programme akkreditasie ontvang. Die akkreditasieliggame kyk na programme wat die hoogste standaarde in onderrig, leer en kurrikulumontwerp, loopbaanontwikkeling en indiensneembaarheid, en studente-, alumni- en werkgewerinteraksie demonstreer.

Werkgewers wat innoverende bestuurders en toekomstige sakeleiers wil lok, weet dat gegradueerdes van geakkrediteerde programme die beste kwaliteit en mees relevante bestuursopvoeding ontvang het. Om ’n gegradueerde van ’n AABS-geakkrediteerde program te werf, is om toptalent te werf.

Prof Anet Smit, waarnemende hoofdirekteur van die NWU Besigheidskool, sê dat, soos die akkreditasie van die Vereniging vir MBA’s (AMBA) en die vereniging vir besigheidsgegradueerdes (Business Graduates Association) wat onlangs ontvang is, is die AABS-akkreditasie nog ’n helder veertjie in die skool se hoed wat sy uniekheid demonstreer.

“In ’n vinnigveranderende wêreld en land moet besigheidskole relevant bly deur besigheidsopvoeding te verskaf wat hulle sosio-ekonomiese omgewing krities benader om suksesvolle besigheidstrategieë daar te stel. Ons is trots daarop om vir ons aanbiedings beloon te word. Ons het bewys dat ons algehele benadering tot bestuursopvoeding volhoubaar is deur ons beheerstruktuur, verhoudings met belanghebbers, ons portefeulje van aanbiedings, en hoe relevant dit is en watter impak dit op die Afrika-vasteland maak,” sê sy.

Submitted on Wed, 11/30/2022 - 14:36