NWU Besigheidskool fasiliteer eietydse onderwerpe om die denke van bestuurslui in Afrika te help vorm

Die eerste Think Tank van 2021 van die Besigheidskool aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 18 Februarie 2021 plaasgevind. Ses-en-vyftig deelnemers het dit bygewoon en twee sprekers het hulle perspektiewe oor die onderwerp – Politieke stabiliteit en demokrasie in Afrika – geleenthede en bedreigings vir sakeondernemings – gelewer.

 In 2021 gaan Afrika 22 nasionale verkiesings hê. Tien presidensiële verkiesings sal plaasvind – in Benin, Kaap Verde, Tsjad, Gambië, Sao Tome en Prinsipe, Somalië, Suid-Soedan, Uganda, die DRK en Zambië. Daar is ’n potensiaal vir hoë vlakke van politieke onstabiliteit, met verreikende implikasies vir sakeondernemings.  Dit was die kernmotivering vir bogenoemde onderwerp.

Prof Avitus Agbor van die NWU het die kompleksiteit van politieke stabiliteit/onstabiliteit op die Afrika-vasteland en verwante uitdagings in hierdie verband genoem. Hy het prof PLO Lumumba aangehaal, wat gesê het dat die probleem met Afrika is dat diegene met idees geen mag het nie, en diegene met mag geen idees het nie. Volgens hom dra talle faktore by tot patrone van politieke onstabiliteit en dedemokratisering, byvoorbeeld die gebrek aan goeie regering, korrupsie, en politieke en verkiesingsgeweld. Die oplossing van Afrika se probleme moet gevind word deur die mense en konsepte van Afrika te benut.

Mnr Piet le Roux van Sakeliga het ’n baie omvattende SWOT-ontleding gedoen van uitdagings wat met demokratisering en patrone van politieke onstabiliteit op die vasteland van Afrika verband hou. ’n Sentrale tema regdeur sy aanbieding was die geleenthede en bedreigings wat met die konsep van ’n verswakte staat verband hou. In sy ontleding het hy gesê dat die mislukking van die staat as ’n bedreiging maar tegelykertyd ook as ’n geleentheid gesien kan word. Ander geleenthede sluit in beperkings op die regering, doeltreffende implementering van beleid en die skepping van ’n omgewing wat vir ontwikkeling bevorderlik is.

Ná die aanbiedings het ’n paar deelnemers vir meer as ’n uur oor die konsep gedebatteer, en temas wat uitgestaan het, het die behoefte aan ’n Afrika-Renaissance, die mislukking van die staat, die krisis in buurlande, korrupsie en deursigtigheid ingesluit.

Die kwessie van grondhervorming in Suid-Afrika en die implikasies vir politieke stabiliteit is ook bespreek. Die debat was van ’n hoë akademiese standaard en het tot sakelui se begrip van die politieke omgewing in Afrika bygedra.

Die volgende onderwerp van die NWU Besigheidskool se Think Tank is Korrupsie, Leefstyloudits en Deursigtigheid in die Suid-Afrikaanse konteks.

Om meer uit te vind oor die Think Tank-inisiatief, kontak asseblief vir me Simoné Laubscher by 24154989@nwu.ac.za

Submitted on Fri, 02/19/2021 - 15:59