Die Noordwes-Universiteit se navorsers en innoveerders werk aan oplossings om virusse, bakterieë en swamme, insluitende die koronavirus, op ’n groot skaal te vernietig. Namate die Covid-19-pandemie voortgaan om verwoesting te saai, is snelwerkende, laekoste-oplossings vir ontsmetting noodsaaklik om die krisis die hoof te bied. Die NWU het hierdie uitdaging aangepak deur ’n patent vir die produksie van osoon, wat jare gelede ingedien is, weer op te diep.
Die gevolg is ’n nuutontwerpte en bygewerkte osoonopwekker wat gebruik kan word om water en vars produkte te behandel, en ook om areas en oppervlakke te ontsmet. Dit kan ’n betekenisvolle impak hê om openbare ruimtes soos universiteite, skole, hospitale, klinieke, biblioteke, en selfs openbare vervoer veilig te maak.
Die ontwerp van die nuwe osoonopwekker is gegrond op ʼn NWU-patent. Volgens FR Bezuidenhout, kommersialiseringspesialis van die NWU se Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor, is die bestaande NWU-patent vir die produksie van osoon die oorspronklike uitvinding van Barend Visser, uitvinder in fisika by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe. Wanneer dit vergelyk word met ander produkte wat tans op die mark is, is die tegnologie baie ekonomies.
Die projek sal waarskynlik ’n langtermynimpak hê, sê dr Emile Kotze, hoof van die Gesondheidskliniek op die Potchefstroomkampus, wat gesondheidskundigheid vir die osoonontwikkelingsprojek lewer. “Die behoefte aan hierdie toerusting sal nie by die pandemie eindig nie, maar sal jare lank voortduur, aangesien ons in Suid-Afrika ook toekomstige gesondheidsbehoeftes sal moet hanteer. Dit is ’n goeie kostedoeltreffende en lewensvatbare alternatief vir die skoonmaak van openbare oppervlakke, geboue en areas,” sê dr Emile, ’n mediese dokter.
Die osoonprojek is ook waardevol vir navorsing, sê hy. “Ons verkry nuwe inligting terwyl ons aan die projek werk. ’n Klomp belangrike navorsing is reeds gedoen en nuwe navorsing sal volg namate ons vorder.”
Multidissiplinêre span werk saam
Volgens FR het die NWU aan die begin van die Covid-19-pandemie ’n span saamgestel om te ondersoek hoe om bestaande tegnologieë aan te wend om oplossings vir die pandemie te vind. “Ons het besef dat Barend se uitvinding ’n klomp onontginde potensiaal inhou. Ons glo dat hierdie opwindende tegnologie ook lank ná die pandemie gebruik sal word om ander gesondheidsuitdagings soos tuberkulose te hanteer.”
Die nuwe osoonopwekker kombineer geskikte sensors met die opwekkingstegnologie om ’n slim sensorproduk te skep wat die hoeveelheid osoon wat gegenereer word, outomaties beheer en in ’n spesifieke area aanwend, sê FR. “Ons glo dat dit ’n langtermyn-, kostedoeltreffende ontsmettingsoplossing vir alle bedrywe kan wees.”
Die pasbygewerkte ontwerp is vier keer meer doeltreffend ten opsigte van die opbrengs van osoon, sê hy. Dit kan ook baie meer koste-effektief as die oorspronklike weergawe geproduseer word. “Die span het baie werk ingesit om die osoonopwekker by te werk en te toets. Dit was ’n reusetaak wat die kundigheid van verskeie rolspelers, departemente en fakulteite van die universiteit vereis het. Dit was inspirerend om te sien hoe almal se toewyding bygedra het om die innovasie en potensiële impak van die projek moontlik te maak.”
Hierdie werklike multidissiplinêre projek het talle personeellede en belanghebbers betrek – van die Tegnologie-oordrag en Innovasie-ondersteuningskantoor en die NWU Gesondheidskliniek tot personeel en studente in rekenaar- en elektroniese ingenieurswese by die Fakulteit Ingenieurswese, kundiges in beroepsgesondheid en veiligheid van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, die NWU se finansiële personeel, en bestuur van regoor die verskillende toetsterreine.
Osoonopwekkers nou in verdere toetsfases
Die toetsing van ’n aanvanklike 10 osoonopwekkerprototipes het reeds in Augustus 2020 begin. Hierdie eenhede is uitvoerig in vertrekke van verskillende groottes getoets om die hoeveelheid osoon te bepaal wat hulle kan vrystel.
FR sê dat hulle nou 200 bykomende demonstrasie-eenhede geproduseer het nadat die toetsing van die prototipes afgehandel is. “Ons doel is om hulle in bedryfsomgewings te plaas terwyl ons terselfdertyd met die toetse voortgaan. Ons moes al die toetse wat uitgevoer moes word noukeurig beplan terwyl daar geen mense in die toetsareas teenwoordig was nie.”
Die toetsterreine sluit die NWU Gesondheidskliniek en die Ferdinand Postma Biblioteek op die Potchefstroomkampus in.
“Die ontwikkeling gaan voort, en ons ondersoek tans ’n opwekker wat ’n selfs hoër opbrengs lewer en waarvoor ons die talente en kundigheid van ’n finalejaar-ingenieurstudent, Izak Adendorff, aangewend het om ons eie sensortegnologie te ontwerp wat osoon intyds kan meet.”
FR sê dat wanneer al die toetsing afgehandel is, hulle beoog om eenhede vir verdere verspreiding op die NWU se kampusse te produseer en daarna met volle kommersiële produksie te begin.
Die osoonopwekker hou die belofte in om openbare ruimtes vir gesondheidsdoeleindes te beveilig.
Die Ferdinand Postma Biblioteek is een van die toetsterreine waar prototipes van die osoonopwekkers reeds geïnstalleer is.
Personeel en studente van die Fakulteit Ingenieurswese is aktief by die ontwikkeling van die osoonopwekkers betrokke. Hulle is Gerno Visser, Marnus Smith, Duhan Janse van Rensburg en Izak Adendorff. By hulle is die uitvinder, Barend Visser.
’n Paar van die rolspelers in die ontwikkeling van die osoonopwekkers sluit Mark Greef, FR Bezuidenhout, Leslie Barends, dr Emile Kotze, prof Johan du Plessis en dr Stefan Linde in. Hulle was teenwoordig toe die osoonopwekkers in toetsareas op die Potchefstroomkampus geïnstalleer is.