NWU: Bemagtig ons gemeenskappe

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is daartoe verbind om die lewens van die mense in die gemeenskappe wat ons dien, te verbeter, en ons is trots op ons belegging in ons plaaslike gemeenskappe sodat hulle met gesondheid, voorspoed en ontwikkeling gehelp kan word. Die NWU is ’n unitêre instelling wat kampusse in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark het.

Benewens ons 587 geregistreerde gemeenskapsbetrokkenheidprojekte en die 490 gemeenskapsbetrokkenheidaktiwiteite wat in 2021 alleen plaasgevind het, het die NWU met ’n verskaffersontwikkelingsinisiatief begin wat ten doel het om klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) te ontwikkel in gebiede waar die universiteit se kampusse geleë is. Dit vorm deel van die NWU se Voorkeurverkrygingsbeginsels soos dit deur die Raad aanvaar is. Dit beteken dat ons – so ver as moontlik – plaaslike kundigheid by ons projekte vir geriewe betrek, en sluit konstruksie- asook instandhoudingsdienste, subkontraktering, vaardigheidsontwikkeling, en die voorsiening van arbeid en materiaal en toerusting in. Ons is ook trots om te sê dat die NWU deursigtig is in die bou- en verkrygingsprosesse vir geriewe, aangesien ons glo dat deur saam te werk, ons kan help om ’n beter toekoms vir almal te verseker.

Vir ons plaaslike gemeenskappe het dit die volgende beteken:

• 55 KMMO’s is vir die nuwe studentebehuisingsprojek op die Mahikengkampus aangestel.

• Die beraamde bedrag vir plaaslike besteding vir hierdie projek was R61,6 miljoen, en die werklike plaaslike besteding was R91 miljoen.

• Op die Vanderbijlparkkampus is die beraamde plaaslike besteding vir die oprigting van die nuwe Psigososiale gebou R6 373 564.

• Sedert Junie 2022 is R27 miljoen aan plaaslike kleiner subkontrakteurs regoor die NWU se kampusse toegeken.

• In totaal kan 76% van die verkrygingsbesteding as ’n BSEB-uitgawe beskou word, met 45% daarvan wat by maatskappye met ’n vlak 1- en 2-BSEB-gradering bestee is.

• Op die Mahikengkampus is ’n subkontrak vir dienste gegee aan ’n skoonmaakdiens wat deur vroue besit word.

• Op die Potchefstroomkampus is twee plaaslike subkontrakteurs vir die skoonmaakdienste vir ’n tydperk van drie jaar aangestel. Daarbenewens is twee plaaslike KMMO’s vir ’n grasinstandhouding-kontrak op die Potchefstroomkampus aangestel.

• Die NWU het ’n databasis opgestel van plaaslike werksoekers – algemene arbeiders en opgeleide arbeiders – wat ’n kontrakteur kan raadpleeg wanneer arbeiders op ’n terrein benodig word.

• ’n Geïntegreerde digitale databasis waarop KMMO’s kan registreer en waar hulle vir kwotasies en geslote tenders opgespoor kan word, gaan vroeg in 2023 deur middel van plaaslike media aan ons plaaslike gemeenskappe bekend gemaak word.

Die NWU Raad en -bestuur is daartoe verbind om te verseker dat die universiteit waarde toevoeg vir die plaaslike gemeenskappe wat om ons kampusse lê, en ons lê hierdie beginsels in beleide en sakeprosesse vas om te verseker dat hierdie visie op ’n aktiewe wyse geïmplementeer en daaroor verslag gedoen word. Ons is onwrikbaar in ons strategie om die NWU as unitêre instelling van voortreflike akademiese uitnemendheid met ’n toewyding aan maatskaplike geregtigheid te transformeer en te posisioneer.

Ons is opgewonde daaroor dat ons gemeenskappe deel van hierdie reis kan wees en ons bedank julle vir julle ondersteuning.

...

 

Submitted on Tue, 01/17/2023 - 09:48