NWU beloon vir uitnemendheid in Sedibeng-distrik

Die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het die nuwe jaar op ’n hoë noot begin deur vir die sewende agtereenvolgende jaar die Professional Management Review (PMR) se Diamond Arrow-toekenning te ontvang.

Die toekenning is by die PMR-sakeontbyt in Vanderbijlpark oorhandig en belangrike besluitnemers, sakelui, lede van die regering, professionele lui en opvoeders van die Sedibeng-streek het vir die toekennings byeengekom. Die hoofspreker was rdsl BM Baloyi, uitvoerende burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit.

Die kampus word gereeld in die PMR-opname gemeld en het al verskeie keer toekennings huis toe gebring. Die Sedibeng-streek sluit die munisipaliteite van Emfuleni, Lesedi en Midvaal in. Die streek is as groeipunt en potensiële beleggingsarea vir internasionale en plaaslike ontwikkelaars en beleggers geïdentifiseer.

Meer oor PMR

PMR verskaf graderings en identifiseer sterk punte en swakhede terwyl hulle maatstawwe vir sakeondernemings, die regering, professionele lui, opvoeders en die arbeidsektor produseer.  Hierdie unieke strategiese intelligensie, wat van groot waarde is vir ontleders, beleggers, finansiers en voornemende kliënte, word aan topgegradeerde maatskappye in verskillende streke in Suid-Afrika aangebied. Arrow-toekennings word in die volgende kategorieë gemaak: diamant (wat die hoogste gradering verteenwoordig), goud, silwer en brons.

Die NWU Vanderbijlpark het ’n Diamond Arrow-toekenning in die kategorie vir hoëronderwysinstellings ontvang en dit is deur prof Herman van der Merwe, die adjunkdekaan in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en prof Susan Coetzee-van Rooy, waarnemende uitvoerende dekaan in die Fakulteit Geesteswetenskappe in ontvangs geneem.

Prof Herman van der Merwe en prof Susan Coetzee-Van Rooy spog met die PMR Diamond Arrow-toekenning.

 

 

Submitted on Wed, 02/14/2018 - 10:32