NWU behaal driekuns met drie finaliste wat om die “Wetenskap Oscars” meeding

Die Noordwes-Universiteit (NWU) spog met drie finaliste by hierdie jaar se gesogte NSTF-South32-toekennings. Die universiteit was goed verteenwoordig in die aanloop tot die toekennings en het agt benoemings in die verskillende kategorieë gehad.

Die NSTF-South 32-toekennings is die grootste, omvattendste en een van die mees gesogte nasionale toekennings. Uitmuntende bydraes in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie (SET) en innovasie deur individue, spanne en organisasies ontvang erkenning.

Die NWU is trots op die finaliste, wat prof Rose Hayeshi, prof Linda Godfrey en Jonker Sailplanes (Edms.) Bpk. insluit.

Prof Rose Hayeshi, direkteur by die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI)/NWU Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform (PKGOP), is ’n finalis vir die Bestuurstoekenning.

“Ek is verheug en geëerd om as finalis op die kortlys te wees in die kategorie vir Bestuur in die 2023/2024 NSTF-South32-toekennings. Ek is ongelooflik dankbaar dat my pogings om die PKGOP te lei en inspireer erkenning ontvang.”

Prof Hayeshi sê die erkenning is ’n getuienis van die wonderlike PKGOP-span met wie sy werk. “Ek is werklik geëerd om onder so ’n uitgelese groep finaliste gereken te word, en dit motiveer my selfs verder om aan te hou om grense te verskuif en ’n positiewe en produktiewe omgewing in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te kweek.”

Prof Linda Godfrey, ’n buitengewone professor in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, is ’n finalis vir die Groenekonomie-toekenning. Hierdie toekenning word deur die Tegnologie-innoveringsagentskap geborg. Prof Godfrey is die bestuurder van Circular Innovation South Africa en die hoofwetenskaplike vir sirkulêre ekonomie by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad.

“Dit is ’n absolute eer om ’n finalis te wees. Daar is so baie merkwaardige wetenskaplikes, ingenieurs en tegnici wat op die gebied van groen ekonomie in Suid-Afrika werk. Ek dink ons doelwit is dieselfde, naamlik om ’n verskil in die lewens van alle Suid-Afrikaners te maak en om die planeet ’n beter plek vir toekomstige geslagte te maak. Ek hoop dat ek deur my werk op een of ander geringe manier tot daardie visie kan bydra.”

Jonker Sailplanes (Edms.) Bpk., met prof Attie Jonker van die Skool vir Meganiese Ingenieurswese as medestigter, aandeelhouer en direkteur, ding mee om die Innovasie-toekenning vir Klein, Medium en Mikro-sakeondernemings.

“Dit is altyd lekker om erkenning vir ’n mens se werk te ontvang. Ons het oor die afgelope twintig jaar sweeftuie vir die internasionale kompetisiemark ontwikkel en ons produkte word tans as die beste in die wêreld gereken. Sestig persent van al die deelnemers aan die vorige wêreldkampioenskap in Hongarye in 2022 het ons sweeftuie gebruik.”

Prof Jonker sê die prestasies van die produk is altyd erkenning vir harde werk, maar dit is veral wonderlik wanneer ’n mens erkenning van kollegas in die wetenskappe ontvang.

Die wenners sal by ’n hibriede geleentheid aangekondig word en op 11 Julie lewendig vanaf Johannesburg en Kaapstad uitgesaai word. Dit sal die 26ste toekenningseremonie wees, en die tema vir hierdie jaar se geleentheid is die Vierde Industriële Revolusie (4IR) in Suid-Afrika.

....

Prof Rose Hayeshi, Direkteur by die Departement Wetenskap en Innovasie (DWI)/NWU Prekliniese Geneesmiddelontwikkelingsplatform is benoem vir die Bestuurstoekenning.

.....

Prof Linda Godfrey,Prof Linda Godfrey, ʼn buitengewone professor in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, is benoem vir die Groen Ekonomie-toekenning, geborg deur die Tegnologie-innovasie-agentskap. Prof Godfrey is die Bestuurder van Circular Innpovation South Africa en die hoofwetenskaplike vir Sirkulêre Ekonomie by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad..

...

Jonker Sailplanes (EDMS) BPK, met prof Attie Jonker van die Skool vir Meganiese Ingenieurswese as medestigter, aandeelhouer en direkteur, is benoem vir die Innovasietoekenning vir Klein, Medium- en Mikro-ondernemings.

Submitted on Wed, 06/05/2024 - 12:25